Baie boere het oor die jare groot veekuddes opgebou, dikwels in hul eie naam en wat op hul state vertoon word. Lewende hawe verdwyn egter soms wonderbaarlik wanneer ’n boedel ter sprake kom. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het onlangs ’n outomatiese belastingaanslag bekend gestel wat letterlik beteken hy kry toegang tot jou bank en die meeste ander finansiële instellings waarmee jy sake doen. ’n Aanslag word op grond van hierdie inligting uitgereik. Indien jy dit nie bevraagteken nie, word dit as die finale aanslag beskou.
Die relevansie hiervan tot boere en lewende hawe is dat ons nooit moet dink lewende hawe word nié opgetel nie. Voor 1 Maart 2016 is lewende hawe teen markwaarde ingebring as deel van ’n bona fide-boer se boedel. Kapitaalwinsbelasting is teen ’n effektiewe koers van 18% betaal.
Sedert 1 Maart 2016 word lewende hawe egter teen markwaarde belas ingevolge die boer se inkomstebelastingkoers, met ’n maksimum marginale koers van 45%. Boere se boedellikiditeit is ernstig geknou weens hierdie wysiging (artikel 9(H) A). Berekenings toon dat ’n boer met lewende hawe ter waarde van R5 miljoen ’n toename van soveel as 25% in likiditeitbehoefte by afsterwe kan hê. Gevolglik gaan erfgename 25% minder erf en Jan Taks gaan 25% meer kry.