Die georganiseerde landbou sal die aanslag op sy benadering moet afweer en seker maak dat die landbou se stem op alle forums gehoor word. Dit is ook nodig dat boere self die anti-diereboerdery-argumente moet ken en verstaan sodat hulle tot debatte daaroor kan toetree.
Die aanval op die veebedryf word hoofsaaklik op drie terreine gevoer, naamlik die vrystelling van kweekhuisgasse, diëte wat plant- of diergegrond is, en dierewelstand.
Klimaatsverandering as gevolg van die vrystelling van kweekhuisgasse is tans die belangrikste punt op internasionale agendas. Die verbranding van fossielbrandstof dra die meeste tot die vrystelling van kweekhuisgasse in die atmosfeer by.