Hulle ly meer aan slaap- en maagprobleme, rugpyn en kopseer as werknemers wat volgens vasgestelde lone betaal word. Dit sluit stukwerkers, kelners en verkoopspersoneel in wat van fooitjies en kommissie vir hul inkomste afhanklik is, of betaal word volgens die hoeveelheid werk wat hulle doen, sê navorsers in die Journal of applied psychology.
“Ons het dié impak op mense se gesondheid nie net aangetref in laerbetaalde beroepe wat van fooitjies afhanklik is nie, maar ook onder professionele lui in die finansiële sektor, verkope en bemarking waar salarisse volgens die betaling van kommissie of prestasiebonusse bepaal word,” sê dr. Gordon Sayre van die Emlyon-besigheidskool in Frankryk in ’n verklaring op Sciencedaily.com.
Hy meen besighede moet daarom, vir die heil van hul werknemers, deeglik besin of dit werklik nodig is om hul personeel wisselvallig te betaal, en of dit nie moontlik sou wees om meer vaste vergoedingsmetodes te oorweeg nie.