
Suidwes Landbou van Leeudoringstad en Jenaan Investment van Aboe Dhabi het pas ’n verlengde strategiese vennootskap onderteken waarvolgens weidingsgewasse in die Soedan verbou gaan word.
Mnr. Louis Smit, hoofbestuurder van Suidwes, sê die verlengde ooreenkoms is deur mnre. Mohamed Otaiba, voorsitter van Jenaan Investment en Pierre Vercueil, voorsitter van Suidwes, tydens ’n handelskou in Aboe Dhabi onderteken.
Jenaan Investment, een van die Verenigde Arabiese Emirate se grootste landbou- en diereproduksie-beleggingsmaatskappye, is nou by drie afsonderlike landbouprojekte in die Soedan betrokke waar weidingsgewasse soos alfalfa-hooi, Soedan-gras en trosgras, uiteindelik op 22 000 ha verbou gaan word.
Volgens Smit verskaf Suidwes die tegniese kundigheid vir die drie projekte deur grond-chemiese ontledings en regstellings om produksievlakke te verhoog, risiko’s te verminder en om bedryfskoste te verlaag. Na verwagting sal sowat 1,4 miljoen ton voer teen 2015 gebaal word.
Otaiba sê Jenaan Investment gebruik altyd wêreldklas-tegnologie en net die beste wetenskaplike metodes vir sy landbouprojekte. “Juis daarom het Jenaan ’n netwerk van strategiese vennnote geskep wat nou ook Suidwes Landbou van Suid-Afrika insluit. Aanvanklik word gefokus op die verbouing van voer in die Soedan, maar vennootskappe sal ook gesluit word met ander lande vir die produksie van gewasse, soos rys, mielies en koring,” het Otaiba gesê.