
Die grootste beperkinge tans in Suid-Afrika se landbou-waardeketting is aan die logistieke kant waar onderbesteding aan nuwe, tegnologies gevorderde spoor- en hawetoerusting, asook swak onderhoud van bestaande infrastruktuur mededingendheid ondermyn.
Verskeie sprekers op ’n mediadag van die landbousakekamer Agbiz het verwys na Suid-Afrika se groei in uitvoer en die logistieke beperkinge wat dit kortwiek.
Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur, het in sy laaste openbare optrede voor sy uittrede verwys na vanjaar se Wêreldbankverslag waarin Suid-Afrikaanse hawens as die swakste bevind is. “Dit is ’n baie groot knelpunt en daadwerklike optrede is nodig om dit reg te stel.”
Hy het gesê dit is van deurslaggewende belang om internasionaal mededingend te bly en die meesterplan vir landbou en landbouverwerking is juis ook daarop gemik. “As ons mededingend is, kan ons ons produkte op die internasionale mark plaas teen dieselfde of laer pryse as ander lande en steeds ’n wins maak. Daarom is dit noodsaaklik om doeltreffend te wees in al ons prosesse.”
Suid-Afrika was in 2007 nog ’n netto invoerder van primêre en sekondêre landbouprodukte. “Sedertdien het uitvoer drasties begin verbeter en daarom beskou politici die landbou vandag as die leidende sektor in die ekonomie. Die groei in die landbou kan toegeskryf word aan beleggings, groter produktiwiteit, groei in waarde en in uitvoer.”
In 2018 is die teiken van $10 miljard (R158 miljard) met uitvoer verbygesteek. Purchase het gesê hy is vol vertroue dat die kerf van $11 miljard (R174 miljard) vanjaar verbygesteek gaan word.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê daar was uitstekende samewerking tussen Transnet en uitvoerders om self onder baie moeilike omstandighede die verhoogde uitvoer moontlik te maak – veral wat bederfbare produkte betref. “Naas water gaan logistiek egter waarskynlik een van die grootste kwessies in landbou bly.”
Logistiek en infrastruktuur
Mnr. Theo Boshoff, aangewese uitvoerende direkteur, wat gepraat het oor probleme wat inklusiewe groei in die landbou beperk, het logistiek as een van die grootste bedreigings uitgesonder. “Dit hou die sleutel tot landbou-uitvoer. Spoorinfrastruktuur en verbintenisse met hawens is van deurslaggewende belang, veral die hawens by Durban, Richardsbaai, Ngqura, Gqeberha en Kaapstad wat die meeste van ons uitvoervrugte hanteer. Ondanks terugslae soos die onrus, kabeldiefstal en die kuberaanval op Transnet het die sitrusbedryf daarin geslaag om ’n rekord van 161,1 miljoen kartonhouers uit te voer.
“Dit dui op die goeie samewerking met Transnet. Die raming deur die buro vir voedsel- en landboubeleid is egter dat vrugte-uitvoer teen 2030 met ’n verdere 51% sal verhoog en dit is van deurslaggewende belang dat infrastruktuur verbeter word. Dit is vinniger om vrag met spoorvervoer in die hawens in te kry en daar sal ten nouste met Transnet en die owerhede by hawens en grensposte saamgewerk moet word.”
Boshof het ook na ander infrastruktuurprobleme verwys, soos verouderde energie-infrastruktuur, beurtkrag en watervoorsiening. Hy het gesê verouderde waterinfrastruktuur lei tot aansienlik verliese. In die meesterplan vir water en sanitasie word geraam dat daar teen 2030 ’n 17%-grootmaattekort kan wees as daar nie nou dringende optrede is nie. Sowat 35% van munisipale water gaan weens lekplekke verlore en net soveel moontlik ook by besproeiingsinfrastruktuur.
Beleidsonsekerheid
Beleidsonsekerheid plaas ’n verdere beperking op inklusiewe groei en hier het hy verwys na onder meer na onteiening sonder vergoeding, teikens vir gelyke indiensneming, swart ekonomiese bemagtiging, watergebruiksregte en wysigings aan wetgewing oor maatskappye.
Hy het ook verwys na nuwe regulasies om produkte van nuwe plantteeltegnieke as geneties gemanipuleerde organismes (GMO’s) te reguleer. “Dit gaan aansienlike implikasies vir mededingendheid inhou as ons wegskram van internasionale neigings. Daar is sekere produkte wat nie internasionaal as GMO’s beskou word nie en só deur internasionale maatskappye bemark word. As dit plaaslik aan GM-regulasies onderwerp gaan word, sal dit ’n verwoestende uitwerking op die landbou hê.”
’n Kwessie wat op die oomblik internasionaal ’n voorrangsaak is, is klimaatsverandering en maatreëls om die vrylating van skadelike gasse te beperk. Boshoff het gesê as Suid-Afrika nie voldoende aandag hieraan gee nie, kan dit vorentoe handelsimplikasies inhou. Daar is studies wat toon die landbou is plaaslik verantwoordelik vir sowat 10% van skadelike vrystellings. Hiervan is 75% vrystelling van metaangas deur herkouers, 18% word toegeskryf aan kunsmis en 7% aan fossielbrandstof in die sektor.