
“Dit lyk of ons die leier van die trop kon bly,” het mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, tydens die bekendmaking van die maatskappy se jaarresultate (tot September 2022) gesê.
Volgens hom is hulle steeds op koers om R1 miljard voorbelaste wins te maak teen 2025 se boekjaar.
Die maatskappy se herhalende wesensverdienste per aandeel het met 21,1% geklim en sy herhalende wesensverdienste het met 24% gegroei. ’n Dividend van R1,22 is verklaar, wat 10c meer is as verlede jaar. Die totale dividend wat vanjaar verklaar is, staan op R1,68, wat ’n toename van 11,3% is teenoor verlede jaar.
Buiten ’n inkrimping in algemene verbruiksbesteding het hoër plaasproduksiekoste erge druk op die landbou se kontantvloei geplaas die afgelope jaar. Hemelhoë brandstofpryse en laer verbruik het dinge verder laat knyp.
Kaap Agri kon egter steeds sy inkomste met 48,4% verhoog tot R15,7 miljard. Dit is danksy ’n styging van 54,3% in die aantal transaksies wat die maatskappy gedoen het, maar ook indrukwekkende reële groei van 14,7% in landbou-verhandeling.
“Ons glo die groep is goed geposisioneer en toegerus om enige verbeterings in die ekonomiese en handelstoestande te benut. Ons is versigtig optimisties oor die komende jaar.”
Brandstof
Die brandstof-kleinhandelsbedryf het ’n sterk afname in volumes ervaar weens die hoë brandstofpryse. The Fuel Company, Kaap Agri se brandstoffiliaal, kon egter die afname beperk tot slegs 2,3%.
Die maatskappy het onlangs ook PEG Retail Holdings oorgeneem.
“Dié toevoeging sal ’n betekenisvolle gunstige impak op brandstofvolume-groei hê, asook op kleinhandel- en brandstofinkomste in die komende jaar,” glo Walsh.
Geriefs- en kitsdiensrestaurantdienste het fluks herstel tot bo vlakke wat laas voor covid-19 gesien is.
Landbou stabiel
Volgens Walsh is die oorkoepelende landbouvooruitsigte stabiel.
“Die laer as gemiddelde reënval teen die einde van die koringseisoen het gelei tot verwagtinge van ’n meer normale koringoes, vergeleke met die vorige jaar. Alles dui op ’n gemiddelde opbrengs oor die hele Swartland-streek.
“Die vooruitsigte vir vrugte- en groenteproduksie lyk bemoedigend met goeie verwagte opbrengste, maar teen ’n hoër koste vir die boer.”
Hulle hou die stygende produksiekoste, beperkte kapasiteitsuitbreiding en uitvoerverwante logistieke probleme fyn dop.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.