Daar is ’n paar maniere waarop ’n trust tot stand kan kom. Die twee wat die meeste voorkom, is by wyse van ’n kontrak (tussen lewende persone) of by wyse van ’n testament.
In die geval van ’n trust wat opgerig word terwyl jy nog leef, is die grondslag daarvan ’n kontrak tussen die oprigter en trustees ingevolge waarvan bates tot voordeel van gespesifiseerde begunstigdes geadministreer moet word.
Waar ’n trust by wyse van ’n testament geskep word, is die testament die grondslag van die trust en is die bepalings soos in die testament vervat, die trustakte waarin die reëls van die trust uiteengesit word.