Sommige noem hulle engele van die duister. Kinders het ’n doodse vrees vir hulle — want, sê die ouers, hulle koek in ’n mens se hare vas. Ander bestempel hulle as vampiere en menslike bloedsuiers, terwyl nog ander hulle as draers en verspreiders van allerhande siektes en plae beskou.
Maar al dié dinge is valse beskuldigings teen die vlermuis, sê mnr. Jan Herselman, navorser van die departement natuur-en-omgewingsbewaring op Stellenbosch.
Die vlermuis is ’n onskadelike soogdier en baie nuttig op die plaas. In een nag vreet ’n vlermuis die helfte van sy eie gewig aan insekte op, en hy kan tereg die boer se vlieënde insekdoder genoem word.