Dié duiweboer voer daggapitte aan sy vlieërs! Saam met ’n gebalanseerde rantsoen help hierdie pitte baie om sy duiwe se spierweefsel op te bou en hulle vlugte te laat wen. Wanneer ’n mens van dagga praat, dink jy aan die polisie, en wanneer jy aan die polisie dink, dink jy aan die tronk.
Vir dagga bêre hulle ’n man sommer maklik agter die tralies. Die polisie hoef egter nie te dink dat mnr. Louw Roos, sakeman en duiweboer, op sy hoewe buite Pietersburg (nou Polokwane) dagga vir sy posduiwe kweek nie. Daarvoor is hy te wetsgehoorsaam.
Die daggapitte wat hy aan sy duiwe voer, kom van oorsee en is ingesluit in ’n gebalanseerde voermengsel vir posduiwe. Hy gebruik die mengsel al geruime tyd en sê dat dit uitstekend is om sy duiwe se spierweefsel op te bou en hulle te help om vlugte te wen.