Droogte en winter beteken vir baie Merino-boere net een ding: moeilikheid en dalende inkomste weens swakker produksie. Vir ’n vooraanstaande Merino-boer, mnr. Freddie Marais van die plaas Perdehoek, Tweeling, was hierdie noodtoestande egter ’n aansporing wat hom met ’n wen- en winskombinasie vorendag laat kom het.
Sy oorwinteringsplan is op mieliereste, sjokolademielies en Rumevite se skaap-en-wollek gegrond. Sy produksiesyfers laat geen twyfel dat hy ’n winskombinasie beet het nie.
Sy lampersentasie in ’n ongunstige jaar is 104, die wolopbrengs van die hele kudde is sowat 9 kg per dier, op drie en ’n half maande slag sy speenlammers gemiddeld 15 kg skoon uit, en in die algemeen is sy diere gesond en in ’n mooi kondisie.