Dit is Nagmaaltyd op Montagu. Mnr. Piet Jordaan van die plaas Bordeaux en sy vrou is ook onder die kerkgangers. Die nagmaalwyn word bedien. En wanneer die gemeente hul leë glasies neersit, luister hierdie boer en sy vrou met gespitste ore. ’n Hoesie, keelskoonmaak of ’n kriewelrige kuggie? Niks, alles doodstil.
Tevrede sit Jordaan dan agteroor en fluister aan sy vrou: “Ons wyn is nog reg.” Die Jordaans is ’n wynfamilie uit die beste tradisie. Sedert 1825 is die familieplaas reeds in hul besit en geen enkele korrel druiwe is nog ooit in die hande van ’n vreemdeling toevertrou nie.
In die ou kelder met sy houtvate vind ’n mens die produk van 100 jaar se werk en persoonlike toesig — ’n atmosfeer wat jou terugroep na die dae van die Hugenote toe wynmakery eie was aan die wingerdboer. Hier word die nagmaalwyn gemaak. Rooi muskadeldruiwe met ’n suikergehalte van ongeveer 24 grade Balling word gebruik.