’n Hond is gewoonlik maar net ’n hond, maar as ’n mens met goeie honde boer, kan jy vandag goed geld verdien, sê mnr. C. Swanepoel van Alies Tear, Senekal.
En dié boer en sy vrou máák geld uit honde, want hulle het goeie honde. Hulle boer met kettingboele (Bullmastiffs). Hulle het twaalf teelhonde waarvan byna almal raseg is.
Die eintlike teelreun wat tans gebruik word, is ’n ingevoerde hond van goeie ouers. Die vraag na kettingboele is besonder goed. ’n Paar weke oue reuntjie haal maklik R28 en ’n tefie R16,80. As dit ’n bietjie hoog klink, blaai gerus deur Die Landbouweekblad se advertensiekolomme.