Toe die inkomste uit haar man se boerdery nie meer al die gate kon toestop nie, het ’n verpleegsuster van Rustenburg besluit om self die hand aan die ploeg te slaan — met groot welslae. Talle kere het me. M.C. Kahl geluister na buurvroue se stories oor vet oeste en ’n lekker ekstratjie uit aarbeiboerdery.
’n Tekort aan geld was daar maar altyd, maar toe hulle werklik begin noustrop trek, het sy besluit om haar hand aan aarbeiboerdery te waag. Haar man het in daardie stadium heeltyds geboer.
As verpleegsuster was haar tyd redelik beperk en daarom moes hy toesien dat die grond bewerk en gereed gemaak word. Hoewel hy nie baie geesdriftig was oor die aarbeigedagte nie, moes hy maar ’n klompie ekstra hande beskikbaar stel.