
Die bedryf het in 2004, 2006 en 2011 uitbrekings van ander hoogs aansteeklike voëlgriepvirusse gehad, waartydens kuddes op besmette plase uitgeslag moes word en boere hiervoor vergoed is, wat die belastingbetaler baie geld gekos het.
Mnr. Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruisbedryfkamer, sê die bedryf en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se kennis en ondervinding het egter sedertdien aansienlik uitgebrei. Daar word nou aanvaar dat volstruise hul eie immuniteit opbou en daarom is vanjaar nie vereis dat kuddes uitgeslag moet word nie.
“Volstruise vrek nie soos hoenders weens die siekte nie, maar bou immuniteit op. Ná sowat vier tot ses weke oorkom hulle die siekte en dan kom die siekte op 'n natuurlike wyse op die betrokke plaas tot ’n einde,” sê Kleyn.
Benewens die belemmering van die uitvoer van vleis word die bedryf vanjaar nie andersins ernstig deur die uitbreking geraak nie aangesien volstruisleer en -vere soos gewoonlik uitgevoer kan word.
Bedryf kan hittebehandelde vleis uitvoer
Suid-Afrika het sedert 23 Junie vanjaar sy voëlgriepvrye status verloor en die bedryf kon toe nie meer vars volstruisvleis uitvoer nie, maar wel hittebehandelde vleis.
Kleyn sê wanneer die hoogs aansteeklike voëlgriepvirus in 'n kudde gevind word, mag hittebehandelde vleis vanaf dié plaas en plase binne 'n omtrek van 10 km óók nie uitgevoer word nie.
Volstruise van voëlgriepvrye kuddes mag wel vir die plaaslike mark geslag word.
“Volstruisvleis bied die plaaslike verbruiker 'n produk wat volgens uitvoerstandaarde geslag en teen baie goeie pryse beskikbaar is.”
Die getal aangemelde uitbrekings van die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus het intussen danksy die warmer somerweer begin afgeneem.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in 'n onderhoud met Landbouweekblad spesifiek na die volstruisbedryf verwys en volstruisboere gevra om waaksaam te wees en streng biosekerheidsmaatreëls toe te pas om kontak met wilde voëls te beperk.
Kleyn sê die bedryf volg deurlopend 'n streng moniteringsproses, wat behels dat volstruise wat na 'n slagplaas verskuif gaan word, eers vir verskillende siektes getoets moet word.
Selfs op plase waar diere nie vir slag gelewer word nie, word twee keer per jaar vir siektes getoets.
Die bedryf sal dalk in die toekoms, nadat die nodige prosesse gevolg is, die moontlikheid van die inenting van broeivoëls oorweeg sodat die verlies aan kuikenproduksie beperk kan word.