Boerdery is deesdae ’n besigheid, maar dit hoef niemand vir me. Heidi Oestlund van Gobabis, Namibië, te vertel nie. Met goeie beplanning, passie en deursettingsvermoë was alles vir haar die moeite werd in die 31 jaar dat sy die boerdery vrou-alleen behartig het.
Oestlund en haar man, Sven-Erick, het nog altyd met Bonsmaras geboer; sedert 1977 in die weste en van 1988 af op die plaas Denenga by Gobabis waar hulle ’n besigheid gehad het en naweke op die plaas was.
Ná sy dood in 1992 het sy alleen met die boerdery aangegaan. Om haar loopbaan as boer op ’n hoë noot af te sluit nadat sy weer ’n Elitekoeiprys verwerf het, het sy die plaas in Desember 2022 verkoop op voorwaarde dat sy nog vir twee jaar op die plaas mag woon. Sy het haar in 2001 as ’n Bonsmara-teler geregistreer en die stoeterynaam Helku-familietrust gekies.