
Dié twee produkte het van 2012 tot 2017 vir 51% van die tien top-uitvoerprodukte van die landbou-, bosbou- en visserybedryf se gunstige handelsbalans gesorg. Só het mnr. Ezra Steenkamp, bestuurder van internasionale handelsnavorsing by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, op Agri SA se transformasie-en-handelskonferensie in Pretoria gesê.
Die landbou-, bosbou- en visserybedryf het deurgaans in die tydperk ’n gunstige handelsbalans gehad en het 14% van Suid-Afrika se totale uitvoer verteenwoordig.
Ander belangrike kategorieë wat tot groei bygedra het, was papier en pulp, asook drankies.
Steenkamp het gesê vrugte en neute word in die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgelig omdat dit ’n hoë uitvoergroeipotensiaal het en terselfdertyd ook arbeidsintensief is.
Internasionaal groei die vraag na neute steeds. Suid-Afrika se produksie van makadamias gaan na verwagting in die volgende vyf jaar verdubbel.
Sekere tradisionele markte toon steeds groei, terwyl daar ook groei in nuwe markte is.
In 2016 was 7% van die uitvoer van landbou-, bosbou- en visseryprodukte na Nederland en uitvoer daarheen het in dié jaar met 8% gegroei.
Uitvoer na Japan het met 47% gegroei, maar uitvoer daarheen was net 4% van die totaal van die drie sektore.
Uitvoer na Amerika het met 10% gegroei, na Hongkong met 8%, en na Indië met 16%, en uitvoer na al drie was onderskeidelik 3% van die totaal van die drie sektore se uitvoer.
Afrika en Europa
Afrika is tans die streek waarheen die meeste landbou-uitvoer gaan, maar dit is meestal basiese produkte, soos grane, vleis en bier.
Europa bly ’n belangrike bestemming waarheen die meeste van die uitgevoerde vrugte en wyn steeds gaan. Steenkamp het dit ’n “onderhoudsmark” genoem.
Amerika is een van die onderontginde markte, met baie potensiaal, “maar soos al die ontwikkelde markte het hulle streng vereistes en dit kan jare duur om toegang tot hul markte te kry”.
Steenkamp sê dit lyk asof Rusland dieselfde streng Europese standaarde vir ingevoerde produkte wil instel, maar vir Suid-Afrikaanse produkte wat reeds toegang tot dié land het, is dit steeds ’n baie lonende mark.
Die Midde-Ooste is ’n baie belangrike mark, veral vir Suid-Afrikaanse vleis, en het in die algemeen relatief lae invoertariewe.
Die nuwe voorrrang-uitvoermarkte is egter hoofsaaklik in Suidoos-Asië. Daar het Suid-Afrika ’n agterstand teen sy mededingers, soos Chili, Peru, Australië en Nieu-Seeland, omdat hy nie handelsooreenkomste met die betrokke lande het nie.
Mnr. Lambert Botha, direkteur van die handelsregsfirma HiltonLambert, het op ’n paneelbespreking gevra wie besluit met wie daar sulke ooreenkomste gesluit word. Hy het die landbousektor aangemoedig om met die Regering te praat om geleenthede aan te dui.
Hy het ook gesê dikwels is die landbou bereid om ’n ooreenkoms met ’n spesifieke land te sluit, maar ’n ander plaaslike sektor, soos motorvervaardiging, is nie daarvoor te vinde nie weens die mededinging wat dit sal bring.
Botha het na die toenemende internasionale gebruik van nietariefversperrings verwys. Hy het gesê dit is uiters belangrik dat die Regering én produsente-organisasies wetenskaplike vermoëns moet hê om sulke versperrings te troef.