
Landbouskrywers SA (Wes-Kaap) se kandidate vir Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar, Landboukundige van die Jaar en Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou is op ‘n onthaal by Domaine Brahms in die Paarl aangewys. Hulle is mnre. Rossouw Cillié (Wes-Kaapse Boer van die Jaar), Boeram Venter (Oos-Kaapse Boer van die Jaar), André Cloete (Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou, Wes-Kaap) en prof. Nick Vink (Landboukundige van die Jaar, Wes-Kaap).
Mnr. André Cloete boer op die plaas Klein Ezeljacht naby Greyton in die Overberg, met appels en steenvrugte, hawermout op droëland en ‘n SA Vleismerino-kudde. Die plaas is 871 ha groot waarvan 262 ha saailande is en 32 ha sagtevrugte, waarvan 21 ha in produksie. Hy huur die plaas tans van die staat, wat dit ingevolge die grondverkrygingsprogram PLAS in 2007 gekoop het.
Die boerdery op Klein Ezeljacht bestaan deesdae uit sagtevrugte (19 ha pere, 13 ha appels), die Vleismerino-kudde (sowat 1 000 diere) en daar is sowat 60 beeste. Sowat 60 ha van die plaas is geskik vir vrugtebome. Die hawermout word gebruik vir veevoer en om bale van te maak in die somer.
Vandat hy in 2008 op die plaas begin boer het, het die tonnemaatproduksie met gemiddeld 8% per jaar verhoog. Cloete het gediversifiseer met die SA Vleismerino-kudde op 260 ha weiding. Sowat 100 ha daarvan word met hawermout, koring of gars beplant. Die lampersentasie is gemiddeld 85%.
Ses jaar gelede was daar twee heeltydse werkers en vier tydelike werkers. Tans is daar 12 heeltydse werkers en 17 tydelike werkers en in pluktyd 36 werkers.
Cloete is op die plaas Dennegeur naby Grabouw gebore en het daar skoolgegaan. Sy ouers was plaaswerkers en hy is die jongste van agt kinders. Hy het in 1985 gematrikuleer, daarna die die Diploma in Landbou aan die Landboukollege Kromme Rhee op Stellenbosch verwerf, waarna hy aan die Kaapse Technikon besproeiingsontwerp gestudeer en die sertifikaat in 1989 verwerf het.
Hy het by Elgin-koöperasie in Grabouw begin werk as besproeiingsontwerper – waar hy 35 plase in die Overberg gediens het. Hy was 6,5 jaar lank daar. Daarna was hy ‘n assistentbestuurder op die plaas Sutherland, naby Grabouw, vir 14 jaar lank. In 2012 voltooi hy die kursus Agricultural Leadership Development Programme (ALDP) aan die Universiteit Pretoria en daar het hy sy eie sakeplan vir sy boerdery saamgestel. In 2013 het hy die sertifikaat Agricultural Leadership Development Programme (in ses maande) voltooi.
André is ondervoorsitter van die boerevereniging Caledon-Noord en voorsitter van die Landelike sektorale polisiëringsowerheid. Hy is in 2011 gekies as direksielid van Two-a-Day. Vanaf 2012 is hy ‘n direksielid van SA Appel- en Peervereniging en ook ‘n direksielid van die Wes-Kaapse Sagtevrugte-ontwikkelingskamer. Vanjaar is hy verkies op die direksie van die Wes-Kaapse Commodity Project Allocation Committee.
“Geld word in die boorde gemaak, nie op kantoor nie. ‘n Mens moet uit die staanspoor dink soos ‘n kommersiële boer – en nie met die denkrigting van ‘n opkomende boer probeer boer nie, want dan gaan jy ‘n opkomende boer bly.”
Oos-Kaap se Boer van die Jaar:
Mnr. Boeram Venter van Kirkwood het sy boerdery vanaf 30 ha besproeiing in 1982 tot 645 ha tans uitgebrei asook ‘n aantal ander boerderyvertakkings gevestig.
Venter, ’n apteker van beroep, het in 1986 voltyds begin boer. Hy het die plaas Peperlaan (63 ha) gekoop en in die eerste paar jaar ontwikkel tot ‘n pragplaas. Sedert 1996 het hy nog vier plase van altesame 1 540 ha in die omgewing van Addo, Uitenhage en Kirkwood gekoop.
Die sitrusboerdery op Addo is in 2007 gediversifiseer met die byvoeging van ‘n Bonsmara-stoetery, ‘n braaikuikenplaas, lusernaanplantings, wildboerdery en ‘n bemestingsaanleg (tans in wording). Die braaikuikenplaas Disco Chicks bevat 12 huise wat binne 3 dae geplaas met ongeveer 620 000 dagoudkuikens. Die Disco Bonsmarastoet bestaan uit 120 geregistreerde aanteelkoeie en 4 kuddevaars. Boeram-hulle het die Africanos-Inn in Julie vanjaar (2013) gekoop. Dit word tans gerestoureer.
Tans bestaan Venter Boerdery uit 1 817 ha waarvan 425 hektaar sitrus, 150 ha lusern en 70 ha kikoejoe.
Daar is sowat 60 permanente personeel en in oestyd word ongeveer 350 seisoenale werkers gehuur om die vrugte te oes. In 2003 het Venter Boerdery die bal aan die rol gesit met Deptartement van Grondsake om 23 werkers van die plaas te bemagtig. In 2006 is ’n aandeel van 75% in die plaas Peperlaan aan die Mbuyiselo-werkerstrust verkoop. Hulle het na vyf jaar die lening van 10 jaar gedelg. ‘n Dividend is jaarliks aan die 23 begunstigdes uitbetaal wat ná 5 jaar R60 000 per werker beloop het. In 2011 het Venter Boerdery sy 25% aandeel aan Mbuyiselo werkerstrust verkoop wat nou die alleen-eienaar is van die plaas Peperlaan. Wes-Kaapse Boer van die Jaar:
Mnr. Rossouw Cillié vanLaastedrif Boerdery van Ceres, is die Wes-Kaapse Boer van die Jaar.
Hy het die boerdery in 1993 begin en dié boerdery het sedertdien geweldig uitgebrei. Die boerdery het afgeskop met 120 ha onder appels en pere en ‘n Dorper-kudde van 1000 ooie en naegnoeg 3260 Dohnemerino’s, sowel as 830 ha besproeiingsgrond waar groente en vrugte geproduseer is.
Deesdae beslaan die ses produksie-eenhede sowat 17 000 ha en strek oor ‘n radius van 100 km. Vanweë die verskillende kimaatsones kan die boerdery dwarsdeur die jaar groente produseer. Vanjaar is die mikpunt om 23 000 ton groente te verkoop.
Die boerdery beoog ook om sy huidige opbrengs van 700 ton steenvrugte en 6380 ton kernvrugte per jaar onderskeidelik te verhoog tot 2670 ton steenvrugte en 12 000 ton kernvrugte in 2017.
Laastedrif se werksmag bestaan uit sowat 800 permanente werkers, waarvan net minder as die helfte op die besigheid se eiendom woonagtig is, en sowat 200 tydelike werkers.
Laastedrif se boerderybedrywighede is só gestruktureer dat soveel as moontlik werkers op ? permanente eerder as ? tydelike basis aangestel kan word.
Wes-Kaapse Landboukundige van die Jaar:
Prof. Nick Vink is sedert 1996 voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het sy loopbaan as landbou-ekonoom in 1979 begin.
Sy navorsingsfokus strek baie wyd: Dit sluit in grondhervorming, indiensneming in die landbou, die impak van deregulering op die landbou asook op die breëre ekonomie en samelewing, die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou en landbou- en landelike ontwikkeling in Afrika.
Hy het vroeg begin deelneem aan die werksaamhede van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) deur die Wes-Kaapse bedrywighede te begin. Onder die vaandel van BFAP is belangrike ontledings van die Wes-Kaapse koring, gars, wyn en vrugtebedryf voltooi, terwyl BFAP se jaarlikse vooruitskouing van krag tot krag gaan.
Hy is in 1992 aangestel as lid van die bekende Kassier-komitee wat die deregulering van die landboubemarkingstelsel in Suid-Afrika aanbeveel het. In opvolg daarvan is hy in 1997 aangestel as ondervoorsitter van dié komitee wat die deregulering van die wynbedryf aanbeveel het. Hy was ook lid van die Kommissie van Ondersoek na die Verskaffing van Landelike Finansiële Dienste (die Strauss-kommissie) asook van ? subkomitee oor Grondbelasting van die Katz-kommissie.
Waarop hy besonder trots is, is die werk wat hy sedert 2003 doen as lid van die Metiel Bromied Tegniese Opsieskomitee (MBTOC). Hierdie komitee is gestig onder die vaandel van die Montreal Protokol vir die beskerming van die osoon, en is getaak om aanbevelings te maak oor die uitfasering van metielbromied, wat baie skadelik is vir die osoonlaag.
In sy dienstydperk by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) waar hy in 1985 begin werk het, was hy verantwoordelikheid vir die beleid-, inligting- en evaluasieprogramme vir onder meer internasionale ekonomiese samewerking; streeks- en plaaslike ekonomiese bestuur; landbou- en landelike ontwikkeling en grondhervorming. Die OBSA het destyds ‘n sleutelrol gespeel in die demokratiese oorgang van Suid-Afrika. Hy het in daardie tyd op verskeie onderhandelingsforums gedien en was deel van die werksaamhede van die Uitvoerende Oorgangsraad in Suid-Afrika.
Vink is een van die enigste landbou-ekonome in Suid-Afrika wat gelyke aandag gee aan die probleme en vooruitsigte van plaaswerkers sowel as boere (kleinskaals en kommersieel). Waarop hy egter ook sterk fokus is om waar moontlik produsente- en werkerforums toe te spreek.
Hy is die genoot van die Internasionale Vereniging van Landbou-ekonome asook die eregenoot van die African Association of Agricultural Economists. Vink het studieleiding gegee aan vyf afgestudeerde doktorale studente asook 33 Magisterstudente. Hy het al meer as 140 publikasies die lig laat sien, waaronder 11 boeke waarvan hy mederedakteur was, asook 88 vaktydskrifartikels.
Byskrif:
Op die foto is, van links: Mnr. André Cloete, mnr. Daneel Rossouw van Nedbank (borg), mnr. Rossouw Cillié, mnr. Koos Nel van Old Mutual (borg), prof. Nick Vink, mnr. Boeram Venter, me. Corien Bornman van Mutual & Federal Agri (borg) en mnr. Andries Wiese van Mutual & Federal Agri (borg).