Die afgelope paar maande het drie eksterne gebeurtenisse die landbou oorheers. Eers was dit die covid-19-pandemie wat in Maart 2020 toegeslaan het, toe die strooptogte veral in KwaZulu-Natal verlede Julie, en tans die Russiese inval in Oekraïne. (Intussen het storms en oorstromings die reeds voos KwaZulu-Natal getref, maar ek laat dit eers buite berekening vir dié rubriek.)
Wat opgeval het, is die goeie samewerking tussen die staat of regering en die private sektor in dié moeilike tye. Daar is dadelik met die regte kapteins van die sektor kontak gemaak en eerstehandse inligting van grondvlak is ingewin.
Die inligting is nie eers gewas en gekeur om in te pas by wat die politici wou hoor nie – dit was die harde feite. En dit was verfrissend. Daar is ook sommer dadelik tot aksie oorgegaan. Dit was só bemoedigend. As daar papaja in jou waaier is, is dit die ekonomie (en nie die politiek nie) wat die hardste praat.