
Twee windplase wat sowat 180 MW krag gaan verskaf, sal teen die middel van volgende jaar voltooi wees. Die Dorper-windplaas, wat 100 MW sal opwek, en die Kouga-windplaas, wat 80 MW sal opwek, is projekte wat deur die onafhanklike kragprodusent, Cennergi, aan die turbinevervaardiger, Nordex, toegeken is.
Me. Anne Henschell, besturende direkteur van Nordex, het belanghebbendes in die bedryf die afgelope week op vanjaar se WINDaba in Kaapstad ingelig oor vordering met die windplase. Konstruksie aan die derde plaas, Amakhala Emoyeni, sal in die tweede helfte van volgende jaar begin. Die drie plase in die Oos-Kaap sal gesamentlik 314,4 MW se krag opwek.
Unieke uitdagings
Henschell sê die ligging van die windplase bied unieke uitdagings om alles wat nodig is onbeskadig by elke aanleg te kry. Vervoer en permitte vir turbinekomponente vanaf die Coega-hawepoort na die Dorper-windplaas skep probleme, maar die konstruksie is op datum en die tiende turbine is onlangs geïnstalleer.
By die Kouga-windplaas is tien fondasies reeds gelê. Die installasie sal in Februarie volgende jaar plaasvind. Die maatskappy sê hy het goeie verhoudinge met die boere en die landelike gemeenskappe rondom die windplase opgebou.
“Om die plaaslike gemeenskappe op te hef, is deel van ons verbintenis met Suid-Afrika. By Dorper beoog Nordex om die vestiging van ’n ontspanningsentrum vir die jeug aan die gang te kry en by Kouga werk ons saam met Redcap om opvoedingsprojekte te identifiseer,” vertel Henschell.