Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998, bekend as die Brandwet) bepaal dat indien jy lid van die plaaslike brandvereniging is, die brandvereniging ’n plan vir brandstroke kan opstel en dit deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye kan laat goedkeur.
In so ’n geval hoef net daardie spesifieke gebiede ingevolge die brandplan gebrand te word. As ’n brand op jou grond ontstaan en jy aan ’n brandvereniging behoort, word jy ingevolge die wet onskuldig geag, tensy jy deur ’n hof skuldig bevind word.
Iemand wat nie lid van die plaaslike brandvereniging is nie, moet op sy/haar plaas voorbrande maak. Indien ’n brand op jou plaas sou ontstaan en skade aan ander eiendomme aanrig, word jy skuldig geag totdat jy jou onskuld in ’n hof bewys.