Met sy hoofbedrywighede in Limpopo bedryf hy sake in ses ander provinsies en in Namibië, en verskaf werk aan etlike duisende mense. Hierdie eerbewys word alom verwelkom, soos blyk uit die boodskappe van vriende en kollegas oor sy legendariese bydrae tot die Suid-Afrikaanse landbou en sakewêreld.
Suid-Afrika is ’n nasie wat begeesterd kan raak en ZZ2 se doel is om van Suid-Afrika ’n wennasie te maak, het mnr. Tommie van Zyl gesê nadat hy sy eredoktorsgraad in die landbou van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het.
“Dit is die grootste eerbewys denkbaar en ek het nie in my wildste drome gedink dit sal gebeur nie. Ek is baie gevlei en dankbaar teenoor my alma mater. Ek besef die gewigtigheid wat hiermee gepaard gaan. Dit gaan nie net oor die verlede en wat bereik is nie, maar oor die toekoms wat ons saam gaan skep. Ons wil baie graag ’n toekoms in Afrika skep.”