
n Verbod is op die vervoer van diere, en die uitvoer van gras of plantmateriaal in die oostelike dele van die Caprivi in Namibië geplaas aangesien bek-en-klouseer daar uitgebreek het. Luidens ‘n berig van Meat Trade News Daily is die siekte onder beeste op die Impalila eiland, 30km wes van die Ngoma grenspos met Botswana, bevesetig.
Die departement van landbou in dié land het ‘n immuniseringsveldtog binne ‘n radius van 80km rondom die eiland van stapel gestuur. Sowat 1 066 beeste wei in die gebied en nadat 200 vir die siekte ondersoek is, is dit by ses gediagnoseer. Dié diere se bloed word getoets om die siekte te bevestig.
Verbod op vleisprodukte
Intussen sê mnr. Andrew Mdishishi, sekretaris van landbou, beeste wat onder kwarantyn by Meatco se Katimo Mulilo-slagplaas aangehou word, mag geslag word, maar die verbod op dié vleisprodukte bly in plek. “Die stappe sal die direktoraat van veeartsenykundige dienste toelaat om die totale omvang van die uitbreking te ondersoek,” verduidelik hy.
Die Caprivi is verlede jaar vry van bek-en-klouseer verklaar nadat die siekte vir sowat twee jaar vleisproduksie by Katimo Mulilo beperk het.
Versprei deur buffels
Luidens ‘n berig van Newera.com is die siekte vermoedelik versprei deur wilde buffels in die omgewing. Die eiland sal na bewering deur die Polisie gepatrolleer word en padblokkades sal opgestel word in ‘n poging om die verspreiding van die siekte te bekamp.
29 April 2010