
Die Mercedes-Benz Concept X-CLASS gaan beslis die koppe laat draai by die internasionale Geneefse Motorskou van 9 tot 19 Maart in Switserland.
'n Mens kan eintlik aanvaar dat hierdie konsepmodel baie naby aan die finale weergawe vir die produksiefase is, want volgens Mercedes-Benz Vans gaan sy X Class reeds laat in 2017 in die sleutelmarkte Europa, Latyns-Amerika, Suid-Afrika en Australië bekendgestel word.
Mercedes-Benz sê sonder skroom hierdie eentonner van hom is tuis in 'n premium klas. Dit voldoen aan die wêreldverbruiker se veranderende voorkeur vir 'n luukse familievoertuig met vyf sitplekke vir stedelinge wat van die buitelewe hou.
'n Gesogte kombinasieDie X-Class bied glo 'n gesogte kombinasie: Volgens Mercedes-Benz is die nuweling 'n taai, doeltreffende en sterk bakkie met 'n goeie veldryvermoë wat terselfdertyd beskik oor die ontwerp, gerief, bestuursdinamika en al die veiligheidsaspekte waarvoor die vervaardiger se produkte bekend is.
Dit is geen geheim nie dat die X-Class die produk is van Mercedes-Benz se alliansie met Nissan en Renault. 'n Mens kan dan ook raai dat die flink pas waarteen die X-Class staangemaak is grootliks te danke is aan die bestaande ontwerp- en potensiële produksievaardighede van ook die alliansie-genote.
Maar, verseker mnr. Volker Mornhinweg, hoofbestuurder van Mecedes-Benz Vans, die X-Class gaan beslis nuwe standaarde stel: Dit gaan die wêreld se heel eerste premium eentonner met 'n bewese leerraam-onderstel, 'n sessilinderenjin met hope wringkrag én permanente vierwielaandrywing wees.
'n Volwaardige Mercedes-BenzDie voertuig se hoë vlak veiligheidskenmerke, rygerief, maneuvreerbaarheid én die moderne ontwerp wat dit as 'n volwaardige Mercedes-Benz onderskei, word as toegevoegde waarde beskou. Mercedes-Benz wil in hierdie stadium nog nie te véél van die fynere besonderhede uitblaker nie, want dit is uiteraard nog ‘n konsep-model . . .
Wat wel bekend is, is dat die top-model met ‘n V6-dieselenjin en 'n 4MATIC permanente vierwielaandryfstelsel sal spog ... nou as dít nie soos suiwer Mercedes-Benz klink nie, dan weet ek regtig nie!
Bekwame veldryerElektroniese vastrapbeheer, 'n oordraratkas met laestrek en twee ewenaarsperre sal die X-Class glo 'n uiters bekwame veldryer maak. En wanneer die nuwe X-Class vir harde werk moet aantree, sal hy met sy loonvrag van 1.1 ton en sleepvermoë van 3.5 ton vir baie min ander eentonners hoef terug te staan.
Die X-Class-eentonners wat bestem is vir markte in Europa, Australië en Suid-Afrika gaan by die Nissan-aanleg in Barcelona, Spanje, gebou word terwyl die bakkies vir Latyns-Amerika by die Renault-aanleg in Cordoba in Argentinië sal uitrol.