
'n Nuttige handboek vir enige boer wat ploeg en plant, is die Meganisasiegids 2015, deur die landbou-ingenieur, Koos le Roux. Die 26ste uitgawe van dié publikasie het pas die lig gesien.
Met Le Roux se Meganisasiegids kan die gebruiker vasstel wat die koste sal wees om te ploeg, te plant, te spuit, te kerf, kuilvoer te maak, te stroop, en wie weet wat nog!
In die gids kan 'n mens vasstel wat jou koste gaan wees vir elkeen van die 22 trekker-kilowatt-klasse, wat saam met spesifieke werktuie ingespan word. Dit vergemaklik ook besluite oor watter werktuie by watter grootte trekkers pas.
Die uitgawe van 2015 is só saamgestel dat 'n mens die verskillende trekker-en-werktuig-kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle kan aflees. Dis in rand per uur of rand per hektaar. Op die een bladsy word die koste in rand per uur verskaf en op die teenoorstaande blad is die betrokke koste in rand per hektaar.
Voorbeelde van hoe om ’n meganisasiebeplanning aan te pak en om ’n kostevergelyking op te stel, is ook ingesluit. Die gids is dus ’n nuttige hulpmiddel in die hande van die boer om sy koste van meganisasie te bereken.
Dié nuttige gids beslaan 174 bladsye.
* Bestel die Meganisasiegids 2015 by Koos le Roux. Dit kos R270 en kan bestel word deur 082 828 9531 te bel, of e-pos koosleroux@live.co.za