
In onlangse artikels van Landbou.com is menings uitgespreek oor die haalbaarheid van mielieproduksie teen uitvoerpariteit en hoe dit van invoerpariteit verskil. Die berekening van hierdie prysvlakke moet heelwat faktore in ag neem en die korrekte syfers benodig is nie altyd beskikbaar nie.
Hoe ver kan pryse styg?
Sodra die aanbod van plaaslik geproduseerde mielies minder word, styg pryse. Pryse van plaaslike mielies styg net totdat dit duurder as ingevoerde mielies word. As ‘n meulenaar/verwerker van mielies teen R4 500 per ton kan koop, sal hy nie R5 000 vir plaaslike mielies betaal nie.
Hoe ver kan pryse daal?
As produksie styg, daal pryse. Pryse daal net tot op vlakke waar mielies uitgevoer kan word. As produsente se mielies teen R3 000 aan die buiteland verkoop kan word, sal dit ‘n plaaslike meulenaar/verwerker nie help om teen ‘n prys van R2 500 mielies te probeer koop nie, niemand sal mielies aan hom verkoop nie.
Bogenoemde verduideliking van in- en uitvoerpariteitsvlakke is hoe dit teoreties en oor tyd werk. Dit gebeur dikwels dat pryse vir kort tye heelwat hoër as invoerpariteit kan styg, of selfs onder uitvoerpariteit daal.
Watter kostes is van belang wanneer in- en uitvoerpariteit bereken word?
‘n Belangrike faktor in die berekening van pariteitspryse is korrekte data. Die begin is gewoonlik die internasionale (Chicago) mielieprys, waarby die koste om dit tot by die uitvoerland se hawe te vervoer en op ‘n skip te laai, getel moet word. Verdere kostes is skeepsvrag, versekering-, finansiering- kwaliteitsaanpassing- en aflaaikoste.
Nadat die mielies afgelaai is, moet dit vervoer word tot by die binnelande verwerkingspunt. In die geval van uitvoerpariteit is dit vervoer vanaf die binnelandse produksiepunt en oplaaitariewe by die uitvoerhawe.
Is in- en uitvoerpariteitspryse eksakte syfers?
Heelwat van hierdie syfers is algemeen beskikbaar en basiese in- en uitvoerprysvlakke kan redelik maklik bereken word. Prakties wissel berekenings baie en omtrent elke rolspeler het sy eie idee van in- en uitvoerpariteit.
Hoewel instansies, soos Sagis, skeepsvragkostes publiseer, beding elke internasionale handelaar verskillende skeepsvragkostes. Dit is uiteraard vertroulike inligting en kan die uiteindelike in- of uitvoerpariteitsprys wesentlik beïnvloed.
Binnelandse vervoertariewe kan vinnig verander. Kwotasies met of sonder terugvragte, ‘n oor- of onderaanbod van vragmotors en spoor teenoor pad kan beduidende wisselings in die uiteindelike prys tot gevolg hê.
‘n Ander belangrike faktor wat ‘n groot invloed op invoerpariteitspryse het, is die hoeveelheid mielies wat benodig word. As die tekort sodanig is dat nét verwerkers by die kus ingevoerde mielies moet gebruik, sal invoerpariteitspryse heelwat laer wees as wanneer meulens dieper in die binneland ook ‘n tekort het. Die grootte van só ‘n tekort is gegrond op skattings van oesgrootte en verbruik. Hierdie skattings kan baie van instansie tot instansie verskil.
Net so sal die grootte van ‘n surplus (waarvandaan mielies uitgevoer moet word) uitvoerpryse affekteer. Suid-Afrika se uitvoermielies het gewoonlik ‘n kwaliteitspremie, maar die premie word nie gepubliseer nie, wat uitvoerpariteitsberekenings verder kan laat verskil.
Alle syfers benodig word nie altyd wyd gepubliseer nie. Dit is heelwat moeiliker om internasionale pryse van wit mielies as geel mielies in die hande te kry.
Opsommend:
Dit is maklik om te bepaal of Suid-Afrika vir ‘n gegewe jaar mielies sal moet invoer of uitvoer. Die berekening van die prysvlakke waarteen dit moet plaasvind is nie so maklik nie, maar baie belangrik vir almal wat deel is van die mieliemark. ‘n Akkurate in- of uitvoerprys kan die bepalende faktor vir goeie prysbesluite wees.
* Johann Strauss is 'n navorser by BVG Commodities.