'n Salmanazar en verskeie jerobeams is onder die eksotiese bottelgroottes in die besonderse versameling Kaapse wyne wat tydens Cape Wine 2004 ten bate van liefdadigheid opgeveil sal word. Cape Wine 2004 is die grootste uitstalling van Kaapse wyne nog en sal deur internasionale wynmedia en -handel bygewoon word.
Die bielie van die bottels is 'n 9-liter Salmanazar, 'n 1999 La Motte Shiraz, met 'n reputasie gelykstaande aan dié van die eienares van La Motte, Hanneli Rupert, internasionaal bekend as mezzosopraan en beter bekend as mev Koegelenberg onder haar bure in Franschhoek. Die Suid-Afrikaanse operaster is die dogter van Anton Rupert, die bekende entrepreneur en stigter van die Rembrandt-groep.
Haar reusebottel Shiraz en ander groot wynname sal deur afslaer Charles Rudd opgeveil word ten bate van twee liefdadigheidsorganisasies wat in die Kaapse wynstreek werksaam is. Die een is Dopstop, wat sedert 1995 die verantwoordelike gebruik van alkohol op die platteland bevorder, en die ander is die Makukhanye Evangeliese Koor uit die brandarm Nkquebela-gemeente in Robertson. Dopstop sal 75% van die opbrengs en die koor 25% ontvang. Die koor sal ook hul eerste CD by die veiling, wat 30 Maart om 17:30 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind, bekend stel.
Voornemende kopers kan uitsien na verskeie wenners van 5 Platter-sterre in, soos die 2002 Foundry Wines Shiraz en 2002 Kumala Journey's End Chardonnay, sowel as agt opeenvolgende oesjare (1986 tot 1993) van die Klein Constantia Vin de Constance, een van Napoleon se gunstelingwyne tydens sy bannelingskap op St Helena en die Britse aristokrasie van die tyd. Die hedendaagse Vin de Constance is een van min wyne wat vyf sterre in die Platter-gids ontvang het.
Benewens die La Motte Shiraz, wat gelykstaande is aan twaalf gewone bottels, sal daar ook drie-liter jeroboams te koop wees. Een is die 2001 De Toren Fusion V, 'n Bordeaux-versnit wat onder die top tien geëindig het by die World Cabernet Tasting in Switzerland waar dit teen ikone soos Mouton Rothschild en Viader meegeding het, en 'n ander die 2001 Boekenhoutskloof Shiraz. Marc Kent, Boekenhout se wynmaker, word wyd gereken as dié wynmaker wat Kaapse Shiraz internasionaal bekend gestel het.
Die wêreldbekende Hamilton Russell Vineyards het ook 'n jeroboam, hul 2001 Pinot Noir, wat as die beste Pinot Noir by die 2003 International Wine & Spirit Competition in Londen aangewys is, geskenk.
Ander noemenswaardige versamelaarsitems op die veiling is 'n magnum 1998 De Wetshof Bateleur Chardonnay van wynmaker Danie de Wet, wat 'n Grand Prix d'Honneur by Vinexpo gewen het vir sy Chardonnay, en 'n 2000 Ken Forrester Chenin Blanc, een van die wyne wat dié kultivar in sy eer herstel het. Nog 'n baanbreker is die 1998 Pinotage van Lanzerac in Stellenbosch, die eerste wynmakery wat meer as 40 jaar gelede Suid-Afrika se eie kultivar kommersieel gebotteleer het.
Die voorkeure van bekende en gerespekteerde internasionale wynskrywers wat die uitstalling gaan bywoon, sal verklap word wanneer hul gunstelingwyne opgeveil word. Een so 'n skrywer is Tim Atkin, die voormalige redakteur van Harper's. Bykans 1 000 gaste, hoofsaaklik uit die VK, Europa, Noord-Amerika en Asië, het reeds geregistreer vir die uitstalling wat deur Wines of South Africa (Wosa) aangebied word.
Onder die gefortifiseerde en soetwyne op die veiling is die De Krans Vintage Reserve en Toriga Nacional, Bergsig Cape Late Bottled Vintage en Cape Vintage Port, en twee bottels 2001 Vin de Paille van David Trafford, die bekroonde argitek/wynmaker. Wine Spectator het 93 punte aan dié "strooiwyn" toegeken. De Trafford se ander twee skenkings is 'n Shiraz en 'n Cabernet-gebaseerde versnit, wat in die vat uitgesoek is, genaamd Elevation 393. Altwee dié wyne is van die 2000-oesjaar en altwee het ook 93 punte in Wine Spectator ontvang.
Ander gunstelinge van Wine Spectator op die veiling is Rustenberg Wyne se 1997 Stellenbosch John X Merriman, 'n Bordeaux-styl versnit, en Raats Family Wines. Bruwer Raats het 'n 1,5-liter bottel van hul 2001 Cabernet Franc, 'n wyn wat hoog aangeskryf is deur Jancis Robinson, geskenk.
Van die ander skenkings is gemaak deur De Meye (Trutina, dié Stellenbosse boetiekwynmakery se hoog aangeskrewe vlagskip- Cabernet/Shiraz-versnit), Diemersfontein (2003 Carpe Diem Pinotage), Glen Carlou (2001 Chardonnay en 2001 Grand Classique) Iona Wines (2003 Sauvignon Blanc), L'Ormarins (2001 Merlot), Lindhorst ('n 5-liter 2003 Statement, hul debuut- vlagskipwyn), Mulderbosch ('n magnum 1997 Alpha Centauri), Saxenburg (1997 Private Collection Shiraz), Slaley (1997 en 1998 Shiraz), Stellenbosch Vineyards (2003 VVS en 2003 Viognier), Vinimark ('n 3-liter Robertson Winery Wolfkloof Shiraz) en Western Wines (2001 Kumala Journey's End Cabernet Sauvignon en 2002 Chardonnay), Warwick Estate ('n 1,5-liter 2000 Trilogy) en Signal Hill (2002 Mathilde Asźu 6 Puttonyos, wat 'n Vinexpo Discovery-trofee gewen het, en 200 Vin de Glaci?re).
Die volledige lys wyne is verkrygbaar bywww.wine.co.za of www.wosa.co.za
26 Maart 2004