Die produksie van gewasse in Afrika, spesifiek vir die vervaardiging van bio-brandstof, is moontlik sonder om voedselsekerheid te bedreig, sê kenners.
Luidens ‘n berig op Allafrica.com het ‘n gesamentlike verslag van die Forum vir Landbounavorsing in Afrika, die Imperial College London en Camco Internasionaal dié bevinding bekend gemaak.
“Gewasse kan op ‘n noemenswaardige skaal vir bio-brandstof in Wes-, Oos en Suider-Afrika geproduseer word sonder dat voedselsekuriteit of natuurlike omgewings ongunstig geraak word,” lui die verslag.
Groot voordele vir die landbou
Dr. Rocio Diaz-Chaves, hoofskrywer van die verslag, sê bio-energie kan nie met voedselproduksie vergelyk word nie. “Dit kan groot voordele vir die landbou in Afrika inhou.” Sy meen dit sal groot voordele vir belegging asook voedselproduksie inhou.
Die verslag is geskryf na aanleiding van navorsing wat vir ses maande lank in Senegal, Mali, Tanzanië, Kenia, Zambië en Mozambiek gedoen is.
Genoeg grond vir verhoogde produksie
Die verslag het ook bevind dat die vasteland genoeg bruikbare grond vir groter aanplantings het, veral wat die verbouing van suikerriet, sorghum en jatropha vir bio-brandstof aanbeterf.
Chaz-Diaz sê verhoogde produksie vir bio-brandstof kan ook help om die uitdagings rondom elektrisiteit en kragtariewe in Afrikalande aan te spreek.
30 Augustus 2010