Biobrandstof het gekom om te bly. Die tegnologie én geld is beskikbaar. Hoe vinniger boere wakker skrik en deel word van dié groeiende bedryf, hoe beter is dit vir die hele landbousektor.
Byna elke boer in Suid-Afrika kan deel word van die biobrandstofbedryf. Dit is binne elkeen se vermoë om sy eie biodiesel te vervaardig. Boere wat finansieel sukkel, kan deur die grootskaalse verbouing van die grondstowwe (olieryke gewasse) 'n kans op oorlewing kry.
Boonop is die Regering goedgesind teenoor die bedryf. Wetgewing is reeds aangepas sodat geen heffings betaalbaar is wanneer minder as 25 000 liter biodiesel per maand vervaardig word ni
. Afgesien van die finansiële moontlikhede wat dit inhou, het biobrandstof ook ekologiese voordele. Teen 2009/10 moet sekere teikens van die Kyoto-protokol (vir die vermindering van kweekhuisgasse) bereik word. Deur die vervaardiging van biodiesel kan boere 'n bydrae daartoe lewer.
Bogenoemde is die menings van mnre. Org Nieuwoudt van Gouritsmond, 'n gewese boer van Mareetsane en nou 'n sakeman, en Terry Booysen van Stellenbosch, 'n gewese rekenaarkundige wat nou heeltyds by biodiesel betrokke is. Hulle en 'n derde vennoot, mnr. Andrew Makenete van Johannesburg, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Biobrandstofvereniging (SABA) en hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, is die direkteure van die maatskappy Sunfuel Systems. Die vervaardiging van biodiesel is een vertakking van die maatskappy.
Nou, sowat tien maande ná die stigting van die maatskappy, is sy produksievermoë sowat 2 miljoen liter per maand (sowat 100 000 liter per dag). Die onderneming het soveel gegroei dat dit na 'n groter perseel in Somerset-Wes verskuif word om die produksie tot minstens 5 miljoen liter per maand te vergroot.
Hoe het alles begin?
Booysen sê die terroriste-aanval op die Wêreldhandelsentrum in New York, Amerika, in 2001 was 'n keerpunt in sy lewe. Dit het hom bygebly.
Hy het me. Anthea Torr, redakteur van die tydskrif Bio Phile, 'n ruk later in Kaapstad ontmoet. Sy vervaardig ook omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels en sy het hom van biobrandstof vertel. Hy het alles daaroor begin uitvind en stel veral in die ekologiese voordele belang.
Verlede jaar het hy en Nieuwoudt mekaar ontmoet. Nieuwoudt was toe al nege maande lank besig om biodiesel uit ou kookolie te vervaardig. Hy het toe 200 liter per dag gemaak. Die Rain's-natuurreservaat by Gouritsmond het toe al feitlik net dié biodiesel gebruik en 12 voertuie in die omgewing het daarop geloop.
Hy en Nieuwoudt het 'n onderneming begin en 'n samewerkingsooreenkoms gesluit met Siyanda, 'n bemagtigingsmaatskappy wat brandstof aan die groothandel versprei, om hul biodiesel met mineralediesel te vermeng, op te berg en te versprei.
'n Semi-kommersiële aanleg is op Booysen se familieplaas by Stellenbosch gebou. Nieuwoudt se kleiner aanleg op Gouritsmond word gebruik om toetse te doen.
Hul sake het reeds soveel uitgebrei dat twee maatskappye se hele vloot voertuie op hul biodiesel loop. 'n Wynmaatskappy van Stellenbosch gebruik dit ook. Verder het die Golden Arrow-busmaatskappy in Kaapstad die biodiesel begin beproef.
In hierdie stadium word biodiesel hoofsaaklik uit herwinde kookolie gemaak. Daar is jaarliks 51 000 metrieke ton van dié olie in Suid-Afrika beskikbaar. Dit kan ook uit Suid-Amerika en Oos-Europa ingevoer word. Die onderneming kry maandeliks 40 000 liter tot 50 000 liter van dié olie in.
Die proses wat die onderneming gebruik, staan as atmosferiese transesterifikasie bekend. Dit beteken die chemiese proses in die mengtenks vind onder normale druk plaas. Daarna word die vloeistof gesuiwer. Dit kan op drie maniere gedoen word:
- Die waterwasproses. Die onderneming is hoogs gespesialiseerd hierin. Vir elke liter biodiesel wat hy vervaardig, gebruik hy 30 % tot 40 % water. Die water kan gesuiwer word sodat daar nie 'n probleem met afvalprodukte is nie. Dit is 'n aangepaste proses wat eintlik uit drie verskillende prosesse bestaan. Dit is vinniger as die gewone sproeiproses.
- Deur die gebruik van 'n absorbeermiddel, soos magnesiumsilikaat. Die onderneming is besig om self 'n absorbeermiddel te ontwikkel. Die nadeel is dat dit baie filtrering verg en dat daar nog nie 'n gebruik vir die versadigde eindproduk ná die filtreerproses is nie.
- Deur ioonuitruiling. Die onderneming toets tans dié Franse proses.
Hierna doen die onderneming die finale suiwering deur die droog- en poleringsproses. Tydens hierdie fase word die laaste water en chemiese middels verwyder.
Nieuwoudt het die droër ontwerp wat die biodiesel onder lae temperature (40 grade Celsius tot 60 grade Celsius) kan droog, teen 'n tempo van 1 000 liter tot 2 000 liter per uur.
Die onderneming ontwikkel nou 'n proses waarmee hy enige soort olie onder lae druk en lae hitte in biodiesel kan om-skakel. Die voordeel is 'n hoër produksie en dat biodiesel uit hoë- én laegraadse olie gemaak sal kan word. Met die bestaande proses is dit tydsaam.
Verder probeer hy 'n Suid-Afrikaanse proses ontwikkel om biodiesel aaneenlopend te vervaardig. Dit word nou in afsonderlike mengsels vervaardig.
Nieuwoudt wil sy tegnologie aan medeboere beskikbaar stel. Die plaaslike mark is ingestel op kleinskaalse vervaardigers wat 1 500 liter per dag (25 000 liter per maand) kan vervaardig. As groter hoeveelhede biodiesel vervaardig word, is heffings aan die Departement van Minerale en Energie betaalbaar.
Daar is egter 'n groeiende vraag na semi-kommersiële stelsels vir die vervaardiging van 25 000 liter tot vyf miljoen liter biodiesel per maand. Die onderneming wil binnekort 'n volledige verwerker beskikbaar te stel.
Boere het die grondstowwe en niks verhoed hulle om in dié vroeë stadium die bedryf te betree nie. Biodiesel is die eerste keer tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika vervaardig, maar die land het sedertdien ver agter geraak. In Europa en Amerika is biodiesel lank reeds beskikbaar. In Europa loop 5 % tot 7 % van dieselvoertuie op biodiesel of mengsels van biodiesel en mineralediesel.
Die een probleem met suiwer biodiesel is dat dit in koue toestande 'n jel vorm wat voertuie moeilik laat vat. Dié probleem word oorkom deur biodiesel met mineralediesel te meng.
Boere moet op die langer termyn na biodiesel kyk en nie net finansiële voordele op kort termyn najaag nie. Die vraag na olieryke plante gaan in die toekoms die hoogte inskiet, meen Booysen.
Hy raai boere aan om meer kanola, sonneblomme, koolsaad en ander olieryke gewasse te plant asook boomsoorte, soos Moringa en Jatropha. Hy meen navorsing is nodig om meer kultivars van olieryke gewasse beskikbaar te stel. Mielies en ander gewasse kan etanol lewer. Verder kan enige soort dierevet na biodiesel omgeskakel word. Volstruis- en hoendervet lyk veral belowend, sê Booysen.
Gliserol wat tydens die proses vorm, gaan in kunsmis omgeskep word. Dit is wateroplosbaar en bestaan uit 15 dele kalium en 14 dele fosfaat - die hoofkomponente van landboukunsmis. As 'n mens dit met hoendermis of 'n ander stikstofryke medium meng, kry jy 'n gebalanseerde misstof.
Verdere voordele van biodiesel is dat dit enjins tot 60 % beter smeer as mineralediesel en dat ou kookolie heeltemal uit sirkulasie onttrek word.
Doen eers jou Huiswerk
'n Bekende in landboukringe en een van die "vaders van kanola" in die Wes-Kaap is deesdae nie net druk besig met die maak van biodiesel nie, maar ook om verwerkers te vervaardig om soveel moontlik boere te help om hul eie biodiesel op die plaas te maak.
Mnr. Neville Murray van Rondekuilplaas, Durbanville, sê feitlik enige boer in Suid-Afrika kan op die een of ander wyse by biobrandstof betrokke raak, hetsy om dit self te vervaardig of om op groot skaal gewasse te plant waaruit biodiesel of -etanol gemaak kan word.
Omdat kanola een van die gewasse is wat by uitstek vir die vervaardiging van biodiesel geskik is, het die biodiesel-gogga Murray gebyt toe dié bedryf sterk in die nuus begin kom het. As 'n opgeleide ingenieur was dit vir hom maklik om op hoogte van die tegniese aspekte te kom.
Ná besoeke aan Amerika en Europa (veral Brittanje, Nederland en Duitsland) het hy aan die werk gespring en sy eie prototipe van 'n verwerker gebou en begin om biodiesel uit ou kookolie te vervaardig. Hy het sy stelsel deurlopend verbeter en is nou op die punt waar hy sy verwerker kan bemark.
Hy vervaardig alle diesel wat hyself gebruik met 'n verwerker met 'n vermoë van 4 000 liter biodiesel per dag. Dié diesel kos hom sowat R1,80 per liter minder as wat mineralediesel kos en hy meen dit sal nog vir jare minstens R1,50 goedkoper wees.
'n Klein vervaardiger kan tot 300 000 liter per jaar vervaardig, met die minimum staatsheffings en belasting betaalbaar.
Die verwerkers wat Murray bou, wissel in vermoë van 150 liter tot 2 000 liter per dag. Hy bemark dit teen R35 000 tot R250 000 per eenheid. Hy bemark ook olieperse.
Dit help nie om 'n eenheid aan iemand te verkoop as hy nie opgelei is nie. Daarom is 'n opleidingskursus van twee dae by die prys ingesluit. Verder is gebruikte plantaardige olie en voorafgemengde metoksied beskikbaar.
Murray het 'n paar wenke vir boere wat hul eie biodiesel wil vervaardig:
- Maak seker jy verstaan die vervaardigingsproses presies voor jy 'n verwerker aanskaf. Daar is baie inligting op die internet en elders beskikbaar.
- Moenie probeer om geld te spaar deur jou eie verwerker te bou nie. Daar is wel aspekte wat ingewikkeld is.
- As jy jou eie olieryke gewasse wil pers, maak seker jy het 'n mark en opbergplek vir die oliekoek. Uit sonneblomsaad word gemiddeld 28 % olie gepers en uit kanola 34 %.
- Om die beste biodiesel te verkry, moet jy dit verkieslik binne twee weke ná vervaardiging gebruik.
- Eienaars van groot vragmotors wat meer as 500 liter diesel per dag gebruik, sal heelwat op diesel én aan herstelwerk aan enjins bespaar deur biodiesel te gebruik. Biodiesel se smeringseienskappe is heelwat beter as dié van mineralediesel.
Murray sê daar is al heelwat boere en ander mense wat hul eie biodiesel suksesvol vervaardig en hul voertuie net daarop laat loop. Selfs al vervaardig jy so min soos 200 liter per week, is dit finansieel steeds lonend.
- Kontaknommers:
Org Nieuwoudt 082 253 8033
Terry Booysen 073 874 8615
Neville Murray 083 225 7339
18 Augustus 2006