Die Regering is gevra om die geleidelike inmenging van 10 % bio-etanol in die bestaande petrolpoel en 'n inmenging van 5 % bio-diesel in die dieselpoel teen 2012 verpligtend te maak. Meer duidelikheid oor 'n nasionale bio-brandstofbeleid word binnekort verwag.
Mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging, het op Landbouweekblad, AMT en Absa se vooruitskouingskonferensie gesê 'n ondersoek deur die Forum vir Uitvoerende Hoofde in die Landbou het getoon dat hoofsaaklik mielies en suikerriet vir die vervaardiging van etanol en sojabone vir biodiesel geskik sal wees.
Hy sê verlede jaar is 11,2 miljard liter petrol in Suid-Afrika verbruik. Vir 'n E10-mengsel sal 1,12 miljard liter etanol nodig wees. Die potensiaal van die gemiddelde mielie-oorskot van 2,5 miljoen ton is 960 miljoen liter en die potensiaal uit suiker wat uitgevoer word, is 'n verdere miljard liter.
Vir die vervaardiging van biodiesel het sojabone die beste potensiaal vanweë die vraag in die land na oliekoek. Sowat 8,1 miljard liter diesel word jaarliks verbruik en vir 'n B5-inmenging sal 405 miljoen liter biodiesel uit 2,3 miljoen ton soja op 1,7 miljoen ha nodig wees. As die inmenging 2 % is, sal 162 miljoen liter of 900 000 ton soja op 690 000 ha nodig wees.
Hy sê daar is bevind dat die vestiging van 'n biobrandstofbedryf 'n alternatiewe bemarkingskanaal vir kommoditeite skep wat stabiliteit vir die bedryf skep en risiko's verminder. Terselfdertyd word voedselsekuriteit nie in die gedrang gebring nie. Om dit egter te laat slaag, is ondersteuning deur die Regering nodig.
Buiten die verpligte inmenging word die Regering gevra vir ondersteuningsmaatreëls vir die vestiging van die bedryf wat verklein kan word soos die bedryf op sy eie voete begin staan. Hy het beklemtoon dat daar nie vir geldelike hulp uit die staatskas gevra word nie, maar net maatreëls, soos verpligte inmenging, tariewe op ingevoerde brandstof en belastingtoegewings.
Makenete sê die biobrandstofbedryf kan byvoorbeeld tot 'n toename van tot 7,5 % in die prys van melk, 2 % in die prys van hoender en 9,6 % in die prys van beesvleis teen 2015 bydra "wat nie ernstig is in die lig van al die voordele nie". Dit kos sowat R250 000 om een werksgeleentheid in die tradisionele brandstofbedryf te skep teenoor R12 000 tot R20 000 in die biobrandstofbedryf. Daar word beraam dat teen 2015 altesame 38 500 werksgeleenthede op plase vir die biodieselbedryf en 17 143 op plase vir die vervaardiging van etanol uit mielies geskep sal wees.
Landbouweekblad, 10 November 2006