
Suid-Afrikaanse boere wat hul vlerke na die res van die vasteland wil sprei, moet op hul hoede wees vir voormalige Franse kolonies soos die Kongo (Brazzaville), sê mnr. Theunis Duvenhage. Hy het al in meer as 60 lande wêreldwyd, en talle Afrikalande, gewerk as projekbeplanningspesialis vir groot landbouprojekte met die klem op waardetoevoeging.
Hy waarsku teen veral voormalige Franse kolonies. “Die Franse het ’n meesterlike stelsel ontwerp waardeur lande onder Franse invloed deur monetêre kolonialisme beheer en aan Frankryk gebind word. Die gebruik van die CFA-geldeenheid, oftewel die Afrika-frank, wat aan die uitgediende Franse frank gekoppel is, is die instrument waardeur die ekonomieë van die betrokke Afrikalande beheer word.”
Geld as beheermiddel
Hy verduidelik dat “die Franse frank ’n verhouding met ander Westerse geldeenhede het en dat die CFA daaraan verbind is en nie vry sweef nie. Westerse ekonomieë en geldeenhede ondervind min inflasie, terwyl Afrikalande weens algemene korrupsie inherente inflasie beleef.”
Duvenhage sê die gevolg hiervan is ’n groot inflasiedifferensiaal tussen die waarde van die CFA en Westerse geldeenhede. Hy meen die CFA is sowat ses tot agt keer oorwaardeer. Dit beteken dat dit ongeveer sewe keer meer kos om landbouprodukte in dié betrokke Afrikalande te produseer, met die gevolg dat dit sowat sewe keer minder kos om eerder Frankryk se oorskot landbouprodukte in te voer.
Eenvoudig gestel, kos dit minder om vleis in te voer as om ’n bees op ’n plaas groot te maak en na ’n slagplaas te neem vir verwerking. Dié stelsel verseker dat Frankryk ’n permanente, gesubsidieerde mark vir sy landbou-oorskot het.
Mededingers onwelkom
Om te verseker dat hul mark onversteurd bly “het die Franse Geheimediens ’n aantal meganismes geskep om vreemde vlieë uit hul mark in 22 van 52 Afrikalande te hou”. Duvenhage sê dié diens gebruik “rebellegroepe” om ontslae te raak van boere wat ’n noemenswaardige produksie handhaaf.
Om ’n landbouprojek in, byvoorbeeld, die Kongo van stapel te stuur, sal ’n voorlegging verg aan die Franse Geheimediens in Parys van ’n deeglike projekstudie met vooruitskouings van bedrywighede en produkte oor die volgende 30 jaar. Indien daar ’n moontlike bedreiging vir die Franse uitvoermark bestaan, sal die versoek afgekeur word, sê Duvenhage.
Nie die moeite werd nie
“Grond is in die meeste Afrikalande waardeloos weens geweldige inherente, strukturele probleme. Ek spits my energie toe op daardie lande waar goeie geleenthede bestaan en die risiko kleiner is as die verlies van jou belegging. Die Kongo is nie een van dié lande nie.
“Ek betreur dit dat Agri SA sonder ’n deeglike ondersoek ingestorm het en met beperkte insig aanbeveel het dat ons boere aan sulke risiko’s blootgestel word.”
Lees Duvenhage se volledige opmerking.
Lees oor Ada Meiring en Loureine Salomon se ondervindinge in die Kongo en kyk na 'n fotogalery.
11 November 2009