
Soos dit maar werk wanneer iets onvergeetliks met jou gebeur, wil jy agterna vir iemand daarvan vertel.
Dis op dié manier dat ek van Frans en Amanda Conradie en hul drywende plaasrestaurant te hore kom. Die stories oor hul gasvryheid en hul Kolgans-bootrestaurant waar jy die heerlikste boerekos kan eet, het hulle vooruitgeloop.
Frans en Amanda boer die afgelope 40 jaar op Nerina, hul rivierplaas by Robertson wat reeds vir ses generasies aan die Conradies behoort. Ná groot hartseer en ’n tyd van swaar geldelike druk, het hulle sowat 12 jaar gelede op die punt gestaan om hul plaas te verloor.
“Ons moes ’n besluit neem. Óf ons moes die plaas verkoop en êrens iets anders gaan doen óf ons moes bly en dit hou vir ons nageslag. Maar as ons sou bly, sou ons iets ekstra moes doen om te oorleef,’’ vertel Amanda.
En ná 'n paar maande se swoeg en sweet in die Conradies se motorhuis, is 'n handgeboude, vaartbelynde eetplek te water gelaat en het sy haar naam, Kolgans, gekry. Kyk hier na 'n video wat dié verhaal vertel.