
Danksy klimaatsveranderinge brei wyn-terroir wêreldwyd só uit dat wingerde nou nader aan die pole begin kruip soos die temperature styg. Volgens Hugh Johnson en Jancis Robinson, skrywers van die sewende uitgawe van The World Atlas of Wine, het die wyntoneel oor die laaste vyf jaar wêreldwyd meer verander as gedurende die voorafgaande 20 jaar. In die suide van Engeland is dit byvoorbeeld nou warm genoeg om dieselfde druiwe ? pinot noir, chardonnay en pinot meunier ? aan te plant as waarmee sy bure oorkant die kanaal in Champagne spog. Johnson put juis groot plesier daaruit dat vonkelwyn nou in Ditchling, Sussex, geproduseer word. Die kalkagtige terroir daar is soortgelyk aan die Champagne-streek s’n en dié gebied het nou die klimaat én die vonkelwyn om by aan te sit.
Ook in Chili strek die wingerde nou verder noord- en suidwaarts, daarom kan die kaart van wynproduserende gebiede hier nie meer langer op net een bladsy van The World Atlas of Wine geakkommodeer word nie. Dit spoel nou oor na twee bladsye.
Een van die grootste verrassings is dat Johnson en Robinson twee bladsye in hul boek aan Virginia afgestaan het, wat nou die nuutste hoofstuk in die Amerikaanse wyngeskiedenis inlui. Eertydse weegawes van die atlas het basies geen verwysing na Washington en Oregon gehad nie, wat nou sulke merkwaardige rieslings en pinot noir op die spyskaart kan voeg.
China bult natuurlik ook sy wynspiere. Dié reus se voortdurende en onversadigbare wyndors ? sy wynverbruik het gedurende die afgelope vyf jaar twee keer verdubbel ? het selfs die Amerikaanse vraag verbygesteek. China is die wêreld se grootste invoerder van Bordeaux-wyne, en danksy dié aanvraag, het die totale uitvoere van Franse wyn verlede jaar rekordhoogtes van $7,7 miljard behaal. Volgens die nuustydskrif Time groei China se aptyt vir wyn teen só ’n koers dat die land na verwagting teen 2016 die grootste verbruiker van wyn gaan wees.
Volgens Mike Veseth, redakteur van die Wine Economist-blog en skrywer van Wine Wars, het Time meegedeel dat hy reeds e-posse van beswaardes ontvang het wat meen hulle moet dalk maar ’n wynvoorraad opbou, anders gaan die Chinese alles opdrink! “Ek dink nie dit gaan sommer gebeur nie,” sê hy droogweg. “China se voorliefde vir wyn is niks nuuts nie, maar die land se verrysing as ’n super-wynmoondheid is wel,” sê Veseth. “China se rykes raak meer en sy groeiende vraag na luukse Westerse produkte het die vermoë om ’n bedryf aansienlik te beïnvloed.”
Op almal se radar
China se plek as verrysende superkrag word ook daarin onderstreep dat hy op binnelandse vraag, grondgebied, geld en belangstelling van wynmakers oor die wêreld heen kan aanspraak maak. Veseth sê China “is op almal se radar, óf as ’n belegging óf as ’n uitvoermark”. En terwyl die aantal wingerde en plantasies van Frankryk tot in Argentinië afneem, het China sy wynproduserende grondgebied vergroot ? die land het nou meer hektaar onder wingerd as Amerika! Tesame hiermee het ’n toenemende hoeveelheid wynmakerye in wyngebiede soos die Ningxia-streek opgeskiet ? kompleet met oorde met padtekens in die vorm van wynbottels.
Robinson, wat 'n uitgebreide reis in China onderneem het, skryf ook oor die ongelooflike pas waarteen die land se eie wynmakery toegeneem het. Die Ningxia-omgewing is besig om in China se wyn-swaartepunt te ontpop. Volgens Johnson kan die Changyu Moser-rooi maklik vir ’n jong Bordeaux aangesien word. Hier is ’n groeiende nasie wat sy wyn saam met alles wat hy reeds bied, sal uitvoer. Made in China, of hoe?
En volgens Time is selfs die Ou Wêreld nou nuut. Istria, ’n deel van Kroasië en eens familie van Italië, onderskei ’n ander neiging wat nou deur die wynwêreld rimpel: inheemse druiwe maak weer hul opwagting. Volgens Robinson raak almal nou bietjie moeg van dieselfde ou verskeidenheid ? soos cabernet en chardonnay. “Istria Malvasia is ’n baie meer plaaslike en indrukwekkende wyn as byvoorbeeld pinot grigio is,” verduidelik sy.
Dis natuurlik ’n les wat Suid-Afrika ook leer, aldus Time. “Suid-Afrika het jare lank chardonnay en sauvignon blanc geplant terwyl hy probeer byhou het met wêreldwye neigings op die wynfront. Suid-Afrikaners het nou weer die chenin blanc-wyne in die Swartland, noord van die Stellenbosch-wynroete, herontdek. Die ou wingerde kan dalk nie die volumes lewer wat die nuwe wingerdstokke gee nie, maar die wyn wat die 'goue oues' op die tafel sit, is baie meer eiesoortig."
Gesondheid!
Bron: Time Magazine.