
Die Chinese provinsie Shangdong wiltwee miljoen liter wyn uit Suid-Afrika invoer. Dié sake-geleenthede gaan in September bespreek word op ’n leierskapsberaad waar die goewerneurs en premiers van sewe provinsies uit sewe lande bymekaarkom.
Me. Joyene Isaacs, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê Shangdong se direkteur-generaal het die Wes-Kaap vroeër besoek vir aanvanklike samesprekinge oor die beraad. Hy het gesê hulle het ’n mark vir sowat twee miljoen liter Suid-Afrikaanse wyn.
Suid-Afrika voer tans altesame sowat 400 miljoen liter wyn uit. Brittanje is die vernaamste uitvoerbestemming. Vir die eerste drie maande van die jaar het Suid-Afrika sowat 500 000 liter wyn na China uitgevoer.
‘‘China groei en daarmee saam sal die vraag na wyn groei. Ons sien ’n opkoms in die Chinese middelklas en ons almal weet wat gebeur as die middelklas groter word. Hulle kyk na alternatiewe produkte, soos wyn,” sê Isaacs.
Me. Su Birch, uitvoerende hoof van Wosa, sê die groei in China is betekenisvol. Daar is reeds Suid-Afrikaanse boere wat goed vaar in die Chinese mark, maar sy meen daar sal in die toekoms ernstiger na geleenthede in China gekyk moet word.
Dit is egter ’n ingewikkelde mark en ervaring wys Chinese invoerders stel dikwels net belang in spotgoedkoop wyn, sê Birch.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 11 Junie 2010.
7 Junie 2010