Meer as 90 Clover-werknemers by dié maatskappy se kaasfabriek op Wesselsbron wat binnekort sluit, gaan afgedank word. Solidariteit het vroeg in Maart 'n Artikel 189-kennisgewing vir die afleggings by dié tak ontvang.
Van die 90 werknemers sal 31 na Clover se Lichtenburg-fabriek oorgeplaas word, het mnr. Jaco Kleynhans, woordvoerder van Solidariteit, gesê. Hulle sal ook 'n hervestigingstoelaag van 10% van hul basiese salaris vir 'n tydperk van 12 maande ontvang. Die res van die personeel, wat hul werk verloor, sal 'n skeidingspakket van twee weke se salaris vir elke voltooide diensjaar ontvang.
Die Wesselsbron-fabriek word gesluit omdat produksie van grootmaat-kaas nie meer winsgewend is nie.
Omdat die fabriek die grootste werkgewer op die dorp was, meen Solidariteit kan die plaaslike gemeenskap van Wesselsbron onder die sluiting daarvan ly.
16 April 2009