
Die genoteerde hoendermaatskappy Country Bird Holdings (CBH) se bedryfswins het sedert verlede jaar met 354% vanaf R41,4 miljoen tot R186 miljoen gestyg. Die maatskappy meen dat hy ook sy skuld in die komende geldjaar noemenswaardig sal vereffen.
Sy finansiële resultate vir die jaar geëindig op 30 Junie is vandeesweek bekend gemaak. Mnr. Robbie Taylor, hoof finansiële beampte, sê ondanks hoër finansieringskoste het Arbour Acres-genetika die Suid-Afrikaanse broeiprestasie aansienlik verbeter. “Ons hoef nie te veel te spandeer in 2010 nie, wat beteken dat ons kontantvloei gebruik sal word om skuld te vereffen tensy ons ‘n suksesvolle verkryging maak.”
Toeskryfbare wins het gevolglik met 466% vanaf R22,17 miljoen (2008) tot R125,6 miljoen (2009), terwyl die netto finansieringskoste met 86% gestyg het. Die wesensverdienste per aandeel het vanaf verlede jaar se 8,87 sent met 543% tot 57,05 sent gestyg.
Mnr. Jeff Wright, hoof uitvoerende beampte, sê die produktiwiteitsverbeterings-program wat sedert die laaste kwartaal van verlede jaar toegepas word lewer uitstekende resultate.
’n Dividend van 9,52 sent per aandeel is verklaar.
Bron:
Landbouweekblad
26 Augustus 2009