
Is daar ‘n makliker manier om al jou gewasse te inspekteer as om vir ure in jou bakkie al óm die grense van jou lande te jaag? Hoe effektief en produktief is dit aangesien jy nie die middel van die land, óf plantstremming met die blote oog kan sien nie? Is dit moontlik dat jy elke hektaar van jou plaas in enige stadium haarfyn kan bestudeer in jou kantoor, probleem-areas vroegtydig raaksien en doelgerig na sekere dele van jou plaas kan ry?
Mnr. Jannie Willemse, besturende direkteur van Triomf Agri Xcellence, verduidelik: Hommeltuie het baie gebruike vir die boer wat vir sy boerdery duisende rande kan maak en die raai uit besluitneming haal.
Triomf Agri Xcellence, ‘n groep nasionale en internasionale landbou- en grondkundiges, werk die afgelope twee jaar baie nou saam met Haevic ‘n maatskappy wat hommeltuigdienste aan die landbougemeenskap lewer. Dié diens sluit in om die toepassing en gebruik van hommeltuie in lande soos Rusland en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waar Triomf betrokke is by die bestuur van groot landbouprojekte.
Dit is om boerderye oor ‘n afstand van 10 000 km intensief te bestuur, maar sonder om daagliks op die plase te wees: Dit is voorwaar ‘n uitdaging. Hommeltuie is een van die tegnologië wat Triomf gebruik om groot oppervlaktes op enige gegewe stadium te bestudeer en uit Suid-Afrika te bestuur.
Dit werk so: Grondklassifikasie is die eerste stap in enige nuwe projek om die grond se potensiaal per gewas te bepaal, bewerkingspraktyke te vestig, optimale plantestand vas te stel, gewasrotasiesisteme in plek te kry, bemestingspraktyk te bepaal, en so aan.
Die tweede stap is om grondchemie op ‘n een-hektaar-ruit (“grid”) te doen om die variërende kalk- en kunsmis regstellings te doen, en die grondchemie in balans te kry.
Byskirf: Hommeltuig se beeldmateriaal: Die planter se kunsmis het gepak en strepe is duidelik sigbaar. Die lae pH kolle kan ook duidelik gesien word. Foto verskaf
Die totale beplanning van die projek word gedoen en die gewas se potensiaal en groeigedrag word per hektaar voorspel. Dit is egter krities om deur die seisoen seker te maak dat die gewasse reageer soos voor planttyd voorspel is.
Hommeltuie word geruik om elke land in ‘n bepaalde stadium af te neem met NDVI-foto’s (Normalized Difference Vegetation Index), asook video-beeldmateriaal. Areas wat afwyk van die presisievoorspelling word met GPS-koördinate gemerk vir inspeksie. ‘n Landboukundige word na die koördinate gestuur om die probleem en afwyking te identifiseer.
Hy is onder andere toegerus met ‘n refraktometer en reagense om net daar op die plek te bepaal of daar ‘n voedingstoftekort is en watter voedingstof dit is wat gespuit of toegedien behoort te word.
Foto-byskrif: Die landboukundige met die refraktometer is mnr. Rupert Vermaas, Triomf se landboukundige in Noordwes. Foto verskaf
Die hommeltuig word weer sewe tot 10 dae later gestuur om die herstel van die gewas in die kolle te monitor. Die voordeel is ook dat die NDVI-foto’s stremming van ‘n plant kan waarneem – lank voordat dit met die blote oog gesien kan word. Met hierdie regstelling word die opbrengs verhoog wat meer geld in die boer se sak plaas.
Dit is nie altyd moontlik om ‘n landboukundige vinnig in die buiteland te kry nie, maar Triomf Agri Xcellence het tegnologie wat dit moontlik maak vir die boer om self na die koördinate te gaan. Die landboukundige kan dan vanaf Suid Afrika af met die betrokke boer gesels met beeldmateriaal terwyl die produsent in die land is. Hy kan dan op ‘n TV skerm na die gewas en grond kyk terwyl die boer in die sone rondbeweeg wat deur die hommeltuig uitgewys is.
Hommeltuie word ook in die veebedryf gebruik om veesuipings te inspekteer en diere te tel, selfs snags, met behulp van infrarooi-kameras. Dit is veral nuttig in areas wat moeilik met ‘n voertuig bereikbaar is, soos bergagtige gebiede en vleie.
Dit is ook baie veiliger om die hommeltuig te stuur om saans oor die vee te vlieg as die diere onrustig raak om enige diewe of roofdiere met die infrarooi-kamera op te tel.
Ongelukkig kan enige persoon nie ‘n hommeltuig gaan koop en net vlieg nie. Vanaf 1 Julie 2015 mag hommeltuie en onbemande vliegtuie wettig in SA vlieg, maar om as kommersiële vlieënier jou tuigie te kan vlieg, moet jy aan die volgende vereistes voldoen:
* Jou hommeltuig moet ‘n registrasiemerk van Burgerlugvaart kry, soortgelyk aan dié van vliegtuie.
* As vlieënier moet jy onbemande vliegtuigopleiding by ‘n geregistreerde vliegskool kry, wat spesialiseer in hommeltuie.
* Jou hommeltuig-vliegmaatskappy moet by Burgerlugvaart geregistreer word.
* Jou hommeltuig moet deur die Departement van Vervoer as lugwaardig verklaar word.
Haevic is een van die eerste maatskappye in Suid-Afrika wat dié diens verskaf, en wat op die punt staan om sy registrasie as wettige operateur van Burgerlugvaart te ontvang.
Hommeltuie is ‘n bekostigbare manier om ‘n arendsoog oor jou gewasse te hou en waardevolle hoë-definisiebeelde van elke hektaar van jou boerdery te gee, wat plantstremming uitwys en die raai uit boerdery te haal.
Hommeltuie, tesame met jou landboukundige en ander tegnologie, gaan jou weer in volle beheer oor jou boerdery plaas om die natuur en grond te kan bestuur.
* Geskryf deur Jannie Willemse, besturende direkteur van TRIOMF Agri Excellence.
* Die meegaande video is deur mnre. Louis Nel en Werner Harmse saamgestel van ‘n trekker wat ‘n land omploeg by Parc de Agra Bukanga-Lonzo in die DRK. Triomf Kunsmis, waarvan Haevic deel is, het die geleentheid gekry om 80 000 hektaar onbewerkte grond te ontwikkel tot onder andere mielielande om voedsel vir die DRK te produseer. Haevic vlieg hulle hommelvaartuie op hierdie projek om die ontwikkeling van die mielies tydens die kritieke groeifases vanuit die lug te monitor.