
Op 6 Augustus 1991 het ’n Walliser, Donald Davies vorendag gekom met ’n oplossings vir die versending van data. In daardie stadium was versending per vate lyne die aangewese en van ons onthou nog die bladsye en bladsye wat letterlik deur faks- en ander tegnologie van die dag geproduseer is. Die destydse deurbraak was die gebruik van gewone drukkerspapier in plaas van die duur rolle spesiale fakspapier.
Davies het sy idee ontwikkel en daar is begin met die versending van groot hoeveelheid data in kleiner pakkies vanaf een bediener. Vandag hanteer meer as 600 miljoen bedieners dié take wêreldwyd.
Die ware ontwikkeling van die internet is egter die breinkind van sir Tim Berners-Lee. Niemand van ons kan vandag ’n lewe indink sonder die internet en wat daarmee gepaard gaan nie. Die volgende vlak van digitale verbinding is egter asemrowend:
Internet in stapskoene!
Easyjet het aangekondig dat hulle binnekort hardloop/stapskoene kan toerus met ’n apparaat wat kan help dat jy nie verdwaal nie. Met behulp van Google Map word ’n t-roete uitgewerk, soos ’n staptoer in ’n bekende besienswaardigheid en soos jy stap, kommunikeer die skoen via die internet deur vibrasie. Die alledaagse lewe is eweneens besig om individualiteit te verloor namate digitale verbinding generies word.
Na raming sal daar teen 2021 tot 200 miljard apparate en toestelle wêreldwyd digitaal verbind wees, waarvan ’n groot persentasie outomaties gekoppel word. Daar is baie voorbeelde soos wanneer 'n nuwe selfoon opgestel moet word. Sodra die SIM-kaart geregistreer is, verbind die selfoon outomaties en die proses word outomaties afgehandel.
Al hoe meer huishoudelike toestelle is ook digitaal verbind. Met behulp van dieselfde slimfoon kan jy ál toestelle in jou huis aan- en afskakel. Trouens, jou huis gaan jou eersdaags beter ken as jyself. Die yskas en die spens laat weet watter voorraad aangevul moet word en sou daar tydens jou besoek aan die supermark nog kruideniersware nodig is, kan dieselfde apparatuur jou opspoor in die supermark en behalwe die aanvulling van jou inkopielys, sommer ook vermeld watter produkte by daardie supermark op spesiale aanbieding is.
Slimfoon help soek
Die nuutste is om aan te dui wanneer die toiletrolle kan opraak – blykbaar ’n steen des aanstoots in sommige huishoudings, vandaar dié toepassing. So is die toepassing vir jou slimfoon om te help soek na die TV se afstandbeheerder, ook baie gewild!
Die enigste beperking op vinniger ontwikkeling en toepassing van die nuwe manier van datahantering, is dat baie toestelle se digitale verbindings nog handelsmerk-spesifiek is. Die Samsung-yskas, die Defy-wasmasjien en die Miele-oond “praat” nog nie dieselfde taal nie en die toepassings wat almal gebruik moet word, kan mens in die warm water laat beland as jou wekker op die verkeerde dag en die verkeerde tyd afgaan.
Dis al ou nuus om kaartloos in baie supermarkte te koop. Wat jy in die trollie laai, gaan dadelik af teen jou kredietkaart, ens. Jy stap dus in, pak jou trollie en stap uit – kaartloos en papierloos.
Lees jou vingerafdruk
Die nuutste ontwikkeling ten opsigte van betaling deur middel van kredietkaarte is bedoel om die invoer van ’n PIN-nommer en die moontlike verlies aan sekuriteit, te troef. ’n Digitale leser van jou vingerafdruk, of liewer die are in jou vinger, is al beskikbaar en word tans getoets. ’n Bekende internasionale kitskos groep is betrokke, asook ’n groep kroeë in Engeland.
Na bewering is die lees van jou vinger veiliger en vinniger en is die leser só opgestel dat dit onthou wat gekoop is tot datum. Nie sleg as die leser onthou wat jou voorkeur dop-en-dam is en dat net die leser weet hoeveel daarvan jy wanneer geniet het nie.
Honde-eienaars is ook deel van die nuutste en wel tot die mate waartoe hulle vervolg kan word as hulle honde se gemors nie opgestel word in openbare plekke nie. In Engeland moet elke hond geregistreer wees en aan die hand van die hond se DNS kan die eienaar opgespoor en beboet word as hy nie Brakkenjan se pad in die parkie en op die strand skoonhou nie. So kry elke hond sy dag.
* Dr. Kobus Laubscher is 'n landbou-ekonoom.