Menige melkboer is onder skoot, maar dié melkery sorg danksy regstreekse bemarking en verkope in hul eie melkwinkel vir ’n stewige wins. Dikwels moet ander vertakkings die melkery dra, maar op Fernie-Haugh by Warburton in Mpumalanga sorg mnr. Barend Rautenbach dat presies die omgekeerde geld.
Die melkery sorg nie net vir die meeste inkomste nie, maar betaal ook die hele boerdery se produksiekoste, wat elektrisiteit, diesel en arbeid insluit, sodat die mielies “skoon wins” is wat weer in die boerdery belê word.
Dan kan hulle verse en werktuie koop en vir die volgende jaar se aanplantings beplan. Die 35-jarige Rautenbach, derde in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie, boer op die familieplaas wat in ’n maatskappy, RAU Agri, gesetel is, met elke familielid ’n aandeelhouer.