
Die Afrikaner-beestelersgenootskap van Suid-Afrika het op ’n spesiale algemene vergadering besluit om Stamboek as registrerende owerheid aan te stel.
Stamboek verteenwoordig tans 65 melkbees-, vleisbees-, kleinvee-, vark-, perde- en hondetelersgenootskappe. Ander telersgenootskappe wat hulle by Stamboek aangesluit het, is die Santa Gertrudis-beestelersgenootskap en die Indiese Boerbok-telersgenootskap vroeër vanjaar.
Mnr. Pierre-André Cronjé, voorsitter van die Afrikaner-beestelersgenootskap, sê hy verwelkom die samewerking met Stamboek in die genootskap se strewe om vleisbeeste te teel wat die kommersiële produsent se vertroue geniet en ’n winsgewende bydrae tot sy kudde kan lewer.
Dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van Stamboek, sê benewens die registrasie van die Afrikaners en die gepaardgaande wetlike aspekte, behels die diens ook die genetiese veekundige ondersteuning vir die ras. “Die samewerking is ’n konsolidasieproses van die ras se unieke fisieke en ekonomiese omgewing wat die telers in staat stel om ingeligte en dus gewenste seleksie- en telingsbesluite te neem.”
Een van die mikpunte vir die ras is die benutting van genomiese teelwaardes.
Die Afrikaner-beestelersgenootskap, wat jare lank sy eie administrasie behartig het, gebruik voortaan die diens van Stemma Animalia se sekretariaat.
Die genootskap het sowat 40 lede met 6 000 geregistreerde beeste.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.