Akkuraatheid is die hoeksteen van die sukses van Booger Bonsmaras. Met ’n argitek, geöktrooieerde rekenmeester en ’n puik bestuurspan is hul rits toekennings geen verrassing nie. Nadat mnr. Cobus Schoeman, ’n argitek van Gauteng, 12 jaar gelede besluit het om ’n plaas naby Standerton te koop, moes hy ’n ekonomies haalbare boerdery-eenheid vestig terwyl die argitektuursaak steeds bedryf is.
Om te verseker die boerdery presteer, het Cobus raad gevra by ’n mentor, mnr. Nico Pieterse van Syferfontein Bonsmaras naby Standerton. Nico tree steeds as mentor op. Cobus was van kleins af lief vir beeste en wou ’n Bonsmarastoetery op Kromdraai vestig, sê sy seun, Werner.
Werner is ook aktief betrokke by die boerdery, terwyl hy in die week as geöktrooieerde rekenmeester by ’n groot rekenmeestersfirma werk. Hy probeer elke tweede naweek plaas toe gaan. “Ons het ’n gedugte span werkers onder leiding van ons plaasbestuurder, mnr. Riaan Grobler, wat die daaglikse boerderybestuur hanteer. Riaan hou ons op die hoogte van die stoetery en ek werk saans aan die boerdery,” sê Werner.