Stoettelers hou akkuraat boek van hul beeste en teken geboortes en ander belangrike inligting getrou aan sodat ’n volledige stamboom van elke bees beskikbaar is. In menige Afrika-land word dit egter nie gedoen nie, met die gevolg dat die eienaar nie weet hoe oud sy beeste is nie.
Dit is ook die geval met die Ankole, ’n beesras met baie lang, dik horings, waarmee ook in Suid-Afrika geboer word. Je-Miné de la Rey, dogter van dr. Morné de la Rey, een van die wêreld se voorste spesialisveeartse op die gebied van geassisteerde reproduksietegnieke, het die probleem opgelos en vasgestel die beeste se horings het jaarringe. Die horings word boonop gebruik om die beeste af te koel of te verhit, na gelang van hoe warm of koud dit is.
Morné is saam met dr. Robert Treadwell die vennote en direkteure van Embrio Plus op Brits, waar hulle onder meer kunsmatige inseminasie, in vitro-bevrugting, embrio-oorplasing en kriogeniese bewaring toepas. Hulle was onder meer verantwoordelik vir die eerste gekloonde dier in Afrika, die Holsteinkalf Futhi.