Hy prop sy veeskaal die afgelope sewe maande sommer so “onder die blad” in om die skape in die veld te gaan weeg. Só sê mnr. Hendrik Auret, die derde geslag wat op die plaas Aigab in die distrik Kamieskroon woon.
“Ek boer met Dorperskape en plant hawer vir weiding. My vrou, Sandra, hou skool in die kommunale gebied Spoegrivier, wat aan ons plasie grens.” Aangesien sy boerdery baie klein is, kan hy nie altyd die kapitaaluitgawe regverdig om duur toerusting aan te koop nie.
“Dit is ’n geval van nood leer bid. Ek moet self inspring om die nodige werktuie en gebruikstoerusting te maak. Dit sluit onder meer dinge in, soos ’n bossie-uittrekker, ’n elektriese graansif, ’n elektriese turksvykerwer, ’n damskrop, ’n skraper, ’n hyskraan en ’n hidroponiese voermaker.”