
Die bek-en-klouseeruitbreking in KwaZulu-Natal is ’n toonbeeld van hoekom die regering en rooivleisprodusente nouer moet saamwerk en gemeenskaplike protokolle moet ontwikkel, sodat die bedryf sy huidige uitdagings kan oorkom én floreer.
Dit was die boodskap by die onlangse vergadering van die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO). Mnr. Angus Williamson, provinsiale RPO-voorsitter, het gewys daarop dat suksesvolle pogings om die siekte te bestry ná die aanvanklike ontdekking van die siekte onder kommunale beeste in Mtubatuba in Mei 2021, gelei het daartoe dat die siektebeheergebied wat aanvanklik ingestel is, teen September 2021 aansienlik verklein kon word.
Vervoerverbod
Geen diere of wild met gesplete hoewe en produkte van sulke diere mag van en na dié gebied vervoer word sonder goedkeuring van dieregesondheidsowerhede nie.
Hierdie verkleinde siektebeheergebied bly egter in plek, en na verneem word gaan dit steeds swaar met beesboere binne dié gebied.
“Tydens die pogings om bek-en-klouseer in KZN onder beheer te bring, het dit geblyk dat die regering en veeboere dikwels nie in ooreenstemming met mekaar gewerk het nie (not from the same page). Dit het soms teenstrydighede en ander probleme veroorsaak, al het ons almal dieselfde doel probeer bereik.
“Dit het getoon dat die regering en veeboere gesamentlik 'n wedersyds aanvaarbare, gestruktureerde en duidelike siektebestuursprotokol moet ontwikkel wat doeltreffende spanwerk moontlik maak om enige toekomstige uitbrekings te hanteer,” het Williamson gesê.
Pleidooie
Die siektebeheermaatreëls het vee-eienaars binne die beheergebied wie se diere nie besmet is nie, genoodsaak om reeds slaggereed diere vir ’n verdere vier maande te voer terwyl hulle geen inkomste kon genereer nie.
“Ons moes dikwels die regering smeek om toegewings te maak vir kommunale beeseienaars wie se diere nie met BKS besmet is nie, om een of twee diere te kon verkoop net sodat hulle inkomste kon genereer om hul gesinne te voed en te klee. Dit was as gevolg van die regering se grootliks onafhanklike optrede oor baie aspekte van die bestuur van die BKS dat daar berigte was van sommige desperate vee-eienaars wat hul toevlug tot onwettige verskuiwing van diere uit die SBG geneem het sodat hulle geld kon verdien.”