
Daar is 25 gebiede in KwaZulu-Natal waar bek-en-klouseer teen einde Januarie bevestig is en waar kwarantynmaatreëls geld om die beweging van diere te beheer en te keer dat die siekte versprei.
Luidens ’n verklaring deur die direktoraat van dieregesondheid in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling was daar einde Desember 26 gebiede wat geraak is.
Sedertdien is kwarantyn op twee van die gebiede opgehef en die gevalle by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) gesluit, nadat kliniese en serologiese waarneming getoon het dat die siekte vir meer as ses maande nie aktief versprei het tussen diere in die voerkrale wat voorheen besmet is nie. Albei voerkrale slag weer vir die plaaslike mark.
Bek-en-klouseer is verlede jaar by diptenke by Nongoma en Hluhluwe in die kommunale weigebiede gediagnoseer. Bek-en-klouseer is in Januarie vanjaar by nog ’n diptenk by Hlabisa – ook in dié siektebestuursgebied – gediagnoseer.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op 30 Junie 2021 ’n siektebestuursgebied in KwaZulu-Natal verklaar. Die verklaring bly van krag.
Bek-en-klouseer word deur ’n virus veroorsaak. Die virus is dieselfde SAT 2-serotipe wat van die begin van die uitbreking in Mei 2021 geïdentifiseer is. Sedert die uitbreking is monsters van 421 plekke versamel.
Die handelsimplikasies vir Suid-Afrika bly dieselfde en die meeste handelsvennote behou die ooreenkomste wat in 2019 beding is nadat die land sy bek-en-klouseervrye status verloor het.
Waarneming in die gebiede gaan voort, terwyl kwarantynmaatreëls behou word. Padblokkades en sigbare veeartsenykundige patrollies moniteer die beweging van diere in die gebiede.
Volgens inligting op die nasionale dieregesondheidsforum se webwerf vrek diere nie noodwendig nie, maar hulle kry koors, gevolg deur sere in hul bekke en pote, hulle hou op vreet en word lam. As die siekte nie bekamp word nie, kan dit vinnig versprei deur kontak met besmette diere en diereprodukte, mense, voertuie, gereedskap, handskoene, klere en toue wat in kontak met besmette diere was.
Besoek die webwerf van die internasionale organisasie vir dieregesondheid hier en die plaaslike nasionale forum vir dieregesondheid hier vir nog inligting oor bek-en-klouseer.