Beesboerdery is die deurlopende opweeg van uitgawes teenoor inkomste om die beste wins te behaal. Vir mnr. Derick Orsmond, ’n siviele ingenieur van Pretoria, is die somme wat ’n beesboerdery laat klop, tweede natuur. “Op grond van my beroep as direkteur van ’n siviele konstruksiefirma, weeg ek alle aspekte teen mekaar op, veral waar die rantsoen daardie ekstra paar kilogram verskil gaan maak en dit ekonomies geregverdig kan word.”
Derick se stoetery, die Drakensbergerstoetery Infracor, se beeste wei op die plaas Nooitgedacht in die omgewing van Carolina op die rand van die plato. Dit is harde weidingwêreld waar ’n hoë reënval, met minder hitte-eenhede, ’n natuurlike suurveld gee wat slegs sowat vier maande van die jaar optimale voeding lewer.
“Ons moet dus ons diere met byvoeding help om in die harde maande hul kondisie te behou om ten beste te presteer.” Infracor Stud Breeders se Drakensbergerstoetery is die grondslag van die beesboerdery, wat ’n kommersiële kudde insluit wat kalwers afrond en aan ’n slagplaas lewer.