Niks is onmoontlik as jy hou van wat jy doen en daarin glo nie. In April vanjaar is die kommunale wolboere mnre. Goodman Ginyigazi van die Merino-stoetery Arizona Ezinhle en Columbus Dumisani Solani van die Sky-Merino-stoetery in die Oos-Kaap as lede van Merino SA toegelaat.
Ongeag die probleme wat met boerdery op kommunale grond gepaard gaan, het hierdie twee boere deurlopend die genetiese gehalte van hul kuddes en die gehalte van hul wol verbeter, en in die proses talle eerbewyse verower.
“Jy moet passievol oor jou werk wees en die soort geloof hê wat berge kan versit,” sê Ginyigazi, wat reeds 17 jaar met skape op kommunale grond boer. Hy boer by die Agnes Rest-nedersetting, en Solani boer by die Mantyantya-nedersetting, albei naby Cacadu (voorheen Lady Frere).