Melkkoeie in Suid-Afrika se kusstreke word dikwels in ’n droë tyd afgeskeep weens seisoenale voertekorte, wat tot gewigsverlies lei. Dit kan moontlik tot swakker kolostrum (biesmelk) en kalwers lei.
Kalwers het met geboorte feitlik geen teenliggaampies nie en dit is noodsaaklik dat ’n voldoende hoeveelheid kolostrum van ’n hoë gehalte so gou moontlik ingeneem word. Dit bepaal die oordra van passiewe immuniteit en dus die kalf se oorlewing.
Biesmelk is die melk wat net ná geboorte in die uier is. Die vorming daarvan begin in werklikheid lank voor geboorte. Vroulike hormone speel ’n belangrike rol in die begin van die biesmelkproses. Dit bevat bestanddele van die koei se bloed en afskeidings uit die uier. Teenliggaampies, soos immunoglobulien (IgG), teen siektes vorm ’n baie belangrike deel hiervan.