
Vennootskappe tussen die private sektor en die staat is die afgelope jaar bevorder om veterinêre dienste en nakoming van dieregesondheidstandaarde op nasionale en provinsiale vlak te verbeter, sê mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, in sy voorsittersverslag op die forum se jaarvergadering.
Hy sê daar is ’n benadering van konstruktiewe betrokkenheid en onderlinge skakeling. In die verslagperiode het die forum beding vir goedkeuring dat private veeartse van die staat se werk doen. Daar sal binnekort met buurlande geskakel word oor dieregesondheidskwessies, veral met Botswana en Namibië.
“Groot vordering is gemaak om kollektiewe aanbevelings aan die ministeriële tegniese taakspan vir diere-biosekerheid te maak. Die bek-en-klouseerbestuurskomitee en die huidige gesamentlike provinsiale bedryfskomitees stel aanbevelings saam om die verspreiding van die siekte hok te slaan.”
Schutte sê omdat bek-en-klouseer in die verslagperiode verder binne Limpopo, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat versprei het, is dit duidelik dat Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status heroorweeg moet word om verhoudings met die land se handelsvennote te verbeter. “Die beginsel van wyer, selektiewe inenting behoort ook aandag te geniet, asook die plaaslike produksie van entstof teen bek-en-klouseer. Ons glo dit is belangrik vir Suid-Afrika om sy eie entstof teen bek-en-klouseer te vervaardig.
“Marktoegang in die beheersones behoort verdere aandag te geniet en ’n plan word opgestel om die marktoegang van diere-eienaars in bek-en-klouseerbeheergebiede te versterk. ’n Tegniese taakspan is met die hulp van die forum daargestel om advies oor die huidige bek-en-klouseerkrisis te voorsien.”
Hy wys daarop dat in die verslagperiode ook ernstige tekorte ervaar is van sommige ander entstowwe wat net deur Onderstepoort Biologiese Produkte vervaardig word. “Die forum het probeer om die situasie met behulp van ’n regsmening te beredder. Die betrokkenheid van die private sektor is vergroot en verskeie enstowwe is goedgekeur, wat baie bemoedigend is.
“ ’n Entstof vir perdesiekte is nou ’n kritieke vraagstuk en sal verdere aandag geniet. Verskeie uitbrekings van Afrika-varkpes het in die verslagperiode voorgekom en die provinsiale dieregesondheidsforums het aandag daaraan geskenk. Dieselfde geld voëlgriep.”
Schutte sê die dieregesondheidsforum het homself daartoe verbind om voort te gaan met beter kommunikasie, die uitruil van inligting en die verspreiding van relevante dieregesondheidsake onder alle lede en belanghebbendes. “Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gereeld interaksie met die forum en erken dit as die bedryf se verteenwoordiger vir dieregesondheid. Verskeie vergaderings is met haar belê om siekte-uitbrekings te bespreek, terwyl daar ook gereeld met die direkteur-generaal geskakel word.”