
“Dit behoort nie net ’n woord te wees nie, maar ’n aksie,” sê dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), in sy Julie-verslag oor siektes en toestande wat in Suid-Afrika voorgekom het.
Almal wat by die landbousektor betrokke is – vanaf die boer, plaaswerkers en landbou-organisasies tot politici, veeartse en veilingsmaatskappye – behoort hul kant te bring om die land se vee te beskerm teen besmetting met organismes wat hulle kan skaad. Talle siektes breek gedurig uit, soos brucellose, bek-en-klouseer, rooiwater, trichomonose, varkpes en voëlgriep, wat boere baie skade berokken en ook bydra tot die las wat ander kwessies soos plaasaanvalle, besmetting van water en veediefstal op boere plaas.
“Ons doen nie alles wat ons behoort te doen nie,” sê hy. Baie boere pas goeie biosekerheid toe. Die basiese beginsels is om ’n geslotekuddebeleid te volg, diere te merk, hulle vir brucellose te toets, beheer oor die beweging van diere buite die plaasgrense uit te oefen en diere eers in kwarantyn te plaas as hulle van elders af ingekoop word.
Gesamentlike aksies deur die staat en private sektore tydens die uitbreking van siektes, met die dieregesondheidsforum as koördineerder, was in die verlede suksesvol, soos met die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo. Die belangrikste oogmerk is egter om ’n stelsel te vestig waardeur boere verplig word om hul diere te identifiseer sodat beter beheer en naspeurbaarheid moontlik is. Dit staan as Lits (livestock identification and traceability system) bekend. Dit sal die landbousektor in staat stel om kompartemente regdeur die land te vestig waarbinne die uitbreking van siektes afgesonder en bestry kan word.
Malan sê lesse kan by die varkbedryf geleer word, wat oor een van die beste biosekerheidstelsels ter wêreld beskik. Die varkbedryf pas biosekerheid uiters streng toe; nie net tussen plase en distrikte nie, maar selfs tussen varkhuise op een plaas. Dan kan behoorlike beheer geskied.
Klik hier vir die tabel van statistieke oor die siektes en toestande wat gedurende Julie by lede van Ruvasa aangemeld is.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.