
Met goeie vooruitsigte in die lewendehawebedryf het BKB nog ’n toevoeging tot sy stal gemaak met die aankondiging dat GWK se Humansdorp- en Vrystaattak by BKB se lewendehawevertakking ingelyf sal word.
“Ons verwag goeie groei binne die lewendehawebedryf, veral vir agente, en glo daar wag nog goeie geleenthede”, sê dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van BKB se afdeling vir lewende hawe en veilings.
Die maatskappy het in die afgelope paar jaar sy reikwydte in die lewendehawebedryf aansienlik uitgebrei met die oorname van Riverview Trading (van Alexandria, Oos-Kaap), RobCaw (van Stutterheim, Oos-Kaap) en Slabbert, Verster en Malherbe (van Klipheuwel, Wes-Kaap).
Oberholster sê dat die jongste transaksie strategies sin maak vir die maatskappy. “Daar is ’n sterk vraag na rooivleis en daarom is skaap- en beesboerdery steeds winsgewend.”
Die Humansdorptak sal die gebied van Humansdorp tot by Caledon bedien en sal as BKB Humansdorp bekend staan. Die Vrystaattak bedien die gebied suid van Senekal en sal ingelyf word by BKB-Louwid. Die bestaande veilingsinfrastruktuur, asook die hele agentespan en ondersteunende personeel van dié GWK-lewendehawestreke vorm deel van die transaksie. Volgens Oberholster is hulle opgewonde oor die goeie span agente wat by die maatskappy sal aansluit.
Dié strategiese verkryging hou twee voordele in vir die maatskappy, sê Oberholster.
“Albei die gebiede oorvleuel nie werklik met BKB se bedieningsgebied nie, en skep só nuwe geleenthede om ons teenwoordigheid uit te brei. Daarby sluit die verkrygings veilingsinfrastruktuur in gemeenskappe in, wat BKB se verbintenis tot raasveilings beklemtoon.
“Ons glo die raasveilings gaan steeds bly. Inteendeel, die veilingsinfrastruktuur in Suid-Afrika gaan met verloop van tyd verander en daar sal meer veilingspunte wees. Dit is een van die redes waarom ons die Hoëveldveilingsentrum, waar elke Vrydag veilings gehou word, gebou het.”
Oberholster sê raasveilings bied eerstens die geleentheid om biosekerheid, tans ’n groot kwessie vir die lewendehawebedryf, toe te pas, én dit is ’n versamelpunt waarheen kleiner boere hul kleiner lotte kan bring om steeds goeie pryse te kry. Met dié oorname hoop die maatskappy om onder meer ook die kleiner kommersiële en kommunale veeboere te bedien wat 40% van Suid-Afrika se vee besit.